Oud-skoolhoof en geliefde inwoner van Eedenglen op Jeffreysbaai, Oom Piet Geyer is in die ouderdom van 97 oorlede.
As student aan die destydse Steynsburg Onderwyskollege het hy sy onderwysdiploma verwerf, en later het hy die B.Ed graad aan Unisa en M.Ed graad aan UPE (nou NMU) verwerf. Hy was eers skoolhoof op Vaalharts by die Laerskool Uitsig, en ook by die Laerskool Innes op Kariega, waar hy afgetree het.
Hy was bekend vir sy liefde vir die opvoeding van kinders. Oom Piet was besonder welsprekend, en altyd bereid om te leer. In sy jonger dae was hy ’n knap gimnas en rugbyspeler. Hy het pragtige houtwerk gedoen en ook boekbindwerk. Sy seun Casper beskryf sy pa as ’n egalige en beheersde persoon, en kenner van die Skrif.
Oom Piet laat sy geliefde vrou Griet, met wie hy meer as 70 jaar getroud was, drie seuns en agt kleinkinders agter.





