Lede van die Dorp van Drome by die ou vissersbootjie wat gerestoureer en na Tant Engeltjie vernoem is. Van links Bryan Dludlu, Eve Alexander, Deon Goosen (stigter van Dorp van Drome), Loulita Vosloo, Emma Wayt (Tant Engeltjie se dogter) en Johan Deyzel.

Foto: Veronica Fourie

Tant Engeltjie (Emma Maritz) was baie jare lank bekend as die skulpevrou van Jeffreysbaai.

Sy het die mooiste ornamente van skulpies gemaak wat gewild was onder plaaslike inwoners en veral toeriste.

Die Dorp van Drome organisasie het haar vereer met ’n bootjie aan die strandfront, wat na haar vernoem is. Dit is geplaas waar van die skulpstalletjies destyds gestaan het, naby die NSRI toring.

Sy het in 1948 in Jeffreysbaai aangekom en sommer gou besef watter waarde die skulpe van die dorp inhou. Sy was as’t ware ’n skulpkunstenaar. Die meeste ornamente is deur haar ontwerp. Dit het gewissel van vrouens in deftige klere, diere soos paddas, voëls en muise, en pragtige borsspelde.

Later het skulp-versierde spieëlrame, doilies en teedoeke gevolg. Haar skulp onderneming het uitgebrei en sy het ’n hegte band met van die plaaslike vroue opgebou. Sy het hulle geleer om die ornamente te maak. Sy het eers die besigheid uit haar huis in Diazstraat bedryf en dit ‘Tant Engeltjie se Skulphoekie ‘genoem.

Haar unieke borsspelde het die oog gevang van die OK Bazaars, wat toe ’n bestelling by haar geplaas ter waarde van oor die honderd pond! Dit was destyds sowat twee honderd rand, wat toe baie geld was.

Tant Engeltjie se dogter, Emma (ook bekend as Franci) Wayt (72) is in haar noppies dat haar ma vereer word.

“My ouers het eers ’n ‘café on the move’ gehad, en dan het my ma gewoonlik met pa geraas as die ware rondval in die waentjie. Daar was ook destyds ’n strokiesprent ‘Engeltjie en Kaspaas’. Die vroulike karakter het altyd met haar man baklei. En dis hoekom my pa my ma toe begin Engeltjie noem het, en die naam het gebly!”

Emma sê haar ma het selfs later vissersbote gehad wat uitgegaan het op die see. “Ons huis was ’n besige plek met skulpe en al!”

Eve Alexander (78) was vir veertig jaar lank Tant Engeltjie se regterhand en het met alles gehelp…van die huishouding tot skulpewerk!

“Dit was vir ons meer vriendskap en kameraadskap. Dit was regtig ’n plesier om vir haar te werk.”

Tant Engeltjie is op 13 Januarie 2009 oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article