MENSE vind innoverende maniere om hulle identiteit te laat geld.

As dit nie met tatoeëermerke of kleredrag is nie, dan is dit dalk haarstyle of die motors waarmee hulle ry.

Vir sommiges is dit belangrik om op ’n uiterlike manier te wys met wie jy te doen het!

Ons wil mos maar almal uniek wees.

Gepraat van motors… as dit nie ’n persoonlike nommerplaat is nie, is dit plakkers wat gewoonlik agterop aangebring word. So sien ons nou die dag D1 Anne is in die dorp.

DocA3 ry in Johannesburg rond, en Ben777 met sy advertensie plakkers as hipnotiseerder wat kan help met van gewigsverlies tot ophou rook, is in die Baai te sien.

’n Skoolmaat wat kos vir onder andere krokodille ontwikkel, se swart motor se registrasienommer is Croc1.

Annerdag sien ons ’n wegsleepvoertuig wat ’n wrak sleep. Daarop is die gerusstellende boodskap “Jy vou hom, ek tou hom”.

Party plakkers is soms lewenslesse, party is tekste uit die Bybel.

’n Swart Ford se plakker lees: “Rules of this car: Get in, shut up and hold on!” ’n Wit Opel se plakker lees “Môre sal die son weer skyn”, en “Ek weet wat ek weet!”

Op ’n omboude viertrek voertuig het ek al gesien die oorspronklike model is heelwat aangepas en die plakker beaam dit: “So gemaak, nie gekoop nie!”

Soms het sulke voertuie ook plakkers op wat lyk soos modder….net om mense te laat dink hulle is aktiewe 4×4 ryers.

’n Buksie van ’n karretjie wil hê motoris moet weet hy is ’n Yster. ’n Krokkerige kar se boodskap lees “My ander kar is ’n Porsche”.

’n Outydse Golfie se plakker lees “Sleg bederf”, en ’n ander “Die deeg kan beweeg”.

Party se spelling verklap ook iets van die eienaar: “Skep moet…….. ja sowaar!” Of “Meisie, skit jou poen poen”. Die kwela-kwela’s se plakkers kan mens nie altyd in goeie geselskap noem nie.

Daar is selfs ‘modes’ met betrekking tot plakkers. Dink maar aan die vissie wat ’n geestelike betekenis het. Dan was daar weer die hele familie – van oupa en oupa, ma, pa, kinders en die troeteldiere wat met plakkers op die agterruit geplak is.

Plakkers het ongetwyfeld ’n groot impak. Toe my kinders nog studente was, het maatskappye hulle betaal om met groot advertensie plakkers in hulle ruite of op die voertuig te ry.

Ander bemarkingsfoefies het ook al op voertuie aandag getrek.

Met Rooineusdag was daar spesiale rooi neuse op karre wat die veldtog ondersteun het.

Selfs met die Wêreldbeker het mense vlaggies en spieëlsokkies aangebring om deel te wees van die opwinding.

Ek wonder nog altyd wat bedoel mense daarmee as hulle kopbene op voertuie plak.

Toentertyd het mens gereeld die hondjies met knikkende koppies in die agterruit gesien, of die grillerige langhaar pluisstroke op die instrumentebord.

En dan nog die lemoen op die lugdraad. Dankie tog dit blyk iets van die verlede te wees.

O jitte en om nie te praat van die verskeidenheid wieldoppe, modderflappe en oorverdowende klankstelsels nie. Vir party ouens is hulle motors hulle groot liefde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article