NA ’n onderwysloopbaan van 39 jaar, gaan die geliefde musiek- en geskiedenisonderwyser van die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp, Christiaan “Cassie” Carstens uittree. Maar dié passievolle man sal weer aantree om nog meer aandag aan sy geliefde instrument, die orrel, te gee. Hy is al jarelank die orrelis by die NG gemeente Humansdorp, waar hy al talle kosters, predikante en skriba’s sien kom en gaan het.
Die Noord-Kapenaar het aan die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg gematrikuleer, en na sy verpligte weermag dae, sy MMus graad en onderwyskwalifikasie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, met orrel as vak. Sy eerste onderwyspos was as musiekonderwyser aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley waar hy twee jaar lank was.
Die talentvolle man sê trots: “Ek kom uit ’n onderwys-huis. My pa was skoolhoof. Ons is ook sowaar nasate van die stigter van Koekenaap!”
Die orrel lê hom baie na aan die hart. Met perfekte artikulasie vertel hy van sy studie oor die Suid-Afrikaanse komponis, Jacobus Klopper: “Dit was maar taai om skool te hou en saans vir my meestersgraad te studeer.”
Musiekdroom bewaarheid
My groot droom was om die internasionale somerskool in Haarlem, Nederland by te woon. Ek het die geleentheid gehad om dit in 1994 te doen en meesterklasse ontvang. Dit was vir my ’n wonderlike inspirasie.
In Oktober 1995 het hy vir net meer as ’n jaar in Utrecht studeer om voor te berei vir sy konsertdiploma. Hy was die eerste een wat dit aan Unisa verwerf het.
Konserte gee lewe aan note op papier
Christiaan Carstens het al talle orrelkonserte in die land gegee. Daaronder tel die Kaapse stadsaal, SAUK-kompetisie, Bloemfontein Universiteit, en sommer oral waar hy geleentheid kry.
“Ek was een van slegs vyf orreliste wat genooi was om deel te neem aan die inwydingskonsert van die Veremarksaal in Gqeberha. Daar het ek ook al kerskonserte en middaguurkonserte gegee.”
Nou lê orrelpaaie voor
Dis sy groot liefde om deur die binneland te reis en historiese orrels te ontdek en daarop te speel. Ek neem dit dan op en plaas dit op my YouTube-kanaal. “Die oudste speelbare orrel wat uit 1837 dateer, het ek in in die Wesleyaanse kerk in Grahamstad (Makhanda) ontdek en daarvan opnames gemaak. Dit het daartoe gelei dat die befaamde en bekende in Lutherse musiekkringe in Berlyn, Hannes Ludwig, my genooi het om deel te wees van ’n orrelgroep Hill’s Angel – vernoem na die bouer van die orrel. Op die ou end was die orrel in Grahamstad toe die oudste in die wêreld! Ludwig het my opnames gebruik en vir my as geskenk drie CD’s gestuur met ’n studieboek oor orrelbouers.”
Hoërskool Nico Malan gee waarde aan menswees
“My musiekpos was gereeld in gevaar, en ek het alle instrumente aangebied om die vak net te behou – van blokfluit en trekklavier tot kitaar, sang ensembles en die koor. Maar uiteindelik het dit verval. Van 2011 het ek net geskiedenis gegee, maar as koorbegeleier aangebly. Ek hou van stories, dus pas dit my temperament.” Hy trek sy oë skrefies as hy sê dat hy die onderwys geniet het terwyl hy nog die kinders kon ore aansit! “Dit was ’n vervullende loopbaan met al sy oppe en affe.”
Musiek is my lewe!
“Ek het van kleintyd ontvlugting gevind daarin. Ek het depressief geraak toe ek ’n rukkie opgehou het met musiek. Toe begin ek om musiek te neem as vak van standerd sewe af!”
Om so ’n knap musikus soos Christiaan te wees, verg dissipline en toewyding. “Dit raak lekkerder hoe vaardiger jy raak. Dis bevredigend om ’n stuk op my mooiste te kan speel. Ek oefen elke dag om my standaard te handhaaf. Om note op papier lewe te gee, is vervullend!” verduidelik hy met netjiese hande.
Aftree op note
In September vat Christiaan die pad na klein dorpies in die omgewing van Upington en Victoria-Wes om nog opnames te maak. Hannes Ludwig het hom genooi om die Camino van Oporto na Santiago mee te maak waar hulle historiese instrumente sal bekyk.
Hy het eers in standerd sewe (graad nege) vir die eerste keer ’n regte vleuelklavier gesien. Dit het hom bekoor. Hy het altyd gedroom om een te besit. Hy het egter twee jaar gelede ’n blinknuwe swart splinternuwe Feurich regop klavier gekoop, wat sy beker laat oorloop!
Hy het sy vrou Atri, ’n doktor in Afrikaanse Literatuur, by ’n universiteits koorfees ontmoet. Hulle het ’n seun, Christiaan (23), ’n student in politieke wetenskap.
“My leuse is: Doen jou bes – jou naam loop jou vooruit!”
, Christiaan Carstens – daar is reeds meer as 400 opnamens van historiese orrels.
, Sprokkels – dis die Nederlands vir ‘bietjie van als’. Bv.. voëlgeluide, herinneringe, en ’n geselsreeks “Uit my twaksak”.




