Stef Kruger het eers bekendheid verwerf met die talle liedjies wat hy vir Dozi geskryf het. Hy het reeds 78 van Kruger se liedjies opgeneem, wat musiek en liriek insluit.
Kruger neem al geruime tyd self sy kitaar en sing sy oorspronklike liedjies.
Hy is gebore op Springfontein, en het op Phillippolis grootgeword. Hy het reeds in graad 9 met lirieke en akkoorde ge-eksperimenteer. Lucas Maree het sy eerste liedjie, Kronkelpad Beloftes, opgeneem.
Hy het talle toekennings vir sy skeppings ontvang, waaronder die ATKV toekenning, Orde van die Goue Pen (Cordis Trust), Klein Reus toekenning (Orania), en Vonk musiektoekenning vir beste liedjie van die jaar – Grassade in die Wind.
Oor die 300 van sy liedjies is in die mark deur bekende en onbekende kunstenaars opgeneem.
Pennies op die Spoor, Grassade in die Wind en Tussen Jou en My is in die nuwe FAK sangbundel opgeneem.
Tydens sy vertoning op 22 Junie by Fergo’s op Jeffreysbaai om 19:00 (langs Potters) sal hy die gehoor bederf met sy eie oorspronklike musiek, met net stem en kitaar, en vertel waar die liedjies vandaan kom.
Benewens sy musiek, bring hy van sy abstrakte kuns, klipjuwele en boeke saam.
Bespreek vroegtydig by die restaurant by 073 068 1844. Die vertoning word gratis aangebied, maar om jou plek te verseker moet R100 deposito per persoon met bespreking betaal word, wat terugbetaalbaar is.





