As die wind so koud waai soos die afgelope paar weke sal vakansiegangers in Jeffreysbaai aan die Oos-Kaapse kus gewis iets ander as die see moet soek om hulle tydens die vakansie mee te vermaak.
Gelukkig sal hulle betyds wees om ’n splinternuwe uitstalling wat deur die kunstenaar Maryna Joubert saamgestel is, te kan besigtig.
Boonop sal dit ook ’n redelike breë perspektief aan waartoe Kouga-kunstenaars in staat is, aanbied.
“A Happening”, Joubert se splinternuwe inisiatief, het ’n positiewe reaksie van plaaslike kunstenaars ontvang, wat gelei het tot ’n diverse verskeidenheid kunswerke van 20 kunstenaars wat aan die uitstalling deelneem.
Die kunstenaars wie se werk uitgestal word, is: Marina Wilbraham, Cryselda Venter, Marina Jansen van Rensburg, Karen de Necker, Petra Stiglingh, Mart Leeuwner, Marlene Liebenberg, Wilna Van Eyk, Liezel De Lange, Erna Coleman, Michael Jansen, Atkinson Mupanganyemba, Danté Lekagane, Mtshengisi Emmanuel Ntaisi, Jenny Meek, Laura Carmen Middleton, Greg Miller, Chrissy Lohr, Artanacio en Maryna Joubert.
“Die tema vir die uitstalling is feestelikheid, ’n celebration of life, en dan die party daarna”, verduidelik Joubert.
“Die opdrag vir die kunstenaars was om elemente in die kunste soos konserte, musiekinstrumente, kostuums, maskers, glam en glitter, gedigte, skoene, hooftooisels ensovoorts in ag te neem,” sê sy.
“Die doel van die uitstalling was om die Kouga kunstenaars se talent op een uitstalling te kan weergee as ook om die wyer Kouga gemeenskap daarby te betrek.”
Die luuksheid van die groot uitstal ruimte sal ook iets wees wat sommige van die kunstenaars vir die eerste keer sal ervaar.
“Hulle kunswerke kan nou elk op hulle eie ‘gelees’ word, verduidelik Joubert. “Sonder die verdringing en verwarring wat die geval is met baie kunswerke wat tegelyk in ’n klein spasie ingeprop en uitgestal word.”
Buiten skilderwerk kan daar kan ook uitgesien word na onder andere beeldhouwerk deur Marlene Liebenberg en glaskuns deur Greg Miller.
Al die kunswerk vir die uitstalling is nuut geskep.
“Ek hoop om dit ’n jaarlikse uitstalling te kan maak en nog meer kunstenaars daarby betrokke te kry.”
“Dit sal ook fantasties wees as meer sakelui in Kouga hierby betrokke wil raak; dit is immers ook tot voordeel van ons dorp en hele Kouga-omgewing.”
Kouga Toerisme wat ook die saal vir die uitstalling geborg het, het ’n deurslaggewende rol gespeel in die bevordering van hierdie gebeurtenis, wat verseker dat dit ’n wye gehoor sal bereik.
Joubert het in Jeffreysbaai gaan aftree na ’n besige lewe waarvan keramiekkuns maar een aspek was. Haar kuns word gekenmerk aan haar liefde vir die omgewing en allerlei optelgoed wat sy gedurende haar stranduitstappies optel beland dikwels op haar skilderdoeke.
Deesdae skilder sy eerder en lê haar daarop toe om die kunstenaars in die omgewing blootstelling te bied waar moontlik.
Die uitstalling word by die Newton-saal in Goedehoopstraat 17 op Jeffreysbaai vanaf Dinsdag, 25 Junie tot Saterdag, 29 Junie aangebied.
Alle kunsliefhebbers is welkom om die openingsaand op 25 Junie van 16:00 tot 18:00 by te woon.
Die uitstalling kan van Woensdag, 26 Junie tot Vrydag, 28 Junie van 11:00 tot 16:00 op Saterdag, 29 Junie van 11:00 tot 15:00 besigtig word.
Bywoning is gratis.
Bel Shantelle du Preez by 082 698 9612 vir meer inligting.





