Hentie Smit doen graag waterverf- en akrielsketse. Foto’s: Verskaf


HENTIE Smit, ’n kwadrupleeg van Jeffreysbaai, het onlangs by die VLV Humansdorp se vergadering kom wys hoe hy mondskilder met olieverf.

Smit, wat graag met sy rolstoel deur Jeffreysbaai se strate ry, is ’n bekende gesig vir baie inwoners.

Hy het aan die VLV dames vertel hoe hy in die hospitaal in Worcester wakker geword het en verneem het dat hy onwetend in ’n verskriklike ongeluk beland het.

Hy was 28 jaar gelede saam met ’n vriend oppad na ’n partytjie. Daar aangekom, het hy besluit om liewer in die motor te bly om te rus. Volgens Smit het ’n persoon in die kar geklim sonder om te weet dat hy agter in die motor was. Tussen Wolseley en Tulbagh het die motoris in ’n u-draai beheer verloor oor die voertuig en teen ’n afgrond afgetuimel. Hentie het in die kattebak beland en is aan sy voete daar uitgetrek. Hy het sy nek gebreek. Sy senuwees was tussen sy c4 en c5 vasgeknyp. Sy ouers het hom vir 25 jaar versorg.

Smit skilder nou al vir 28 jaar sonder formele opleiding. Hy het vertel dat hy aanvanklik baie swaar gekry het, en nadat die Padongelukfonds na agt jaar uitbetaal het, kon hy ’n elektriese rolstoel bekom.

Hy doen graag waterverf- en akrielsketse, maar hou nie baie van olieverf nie, aangesien dit baie lank neem om die verskillende lae droog te kry. Die skildery wat hy aan die VLV gedemonstreer het, is onvoltooid. Dit moet eers droog word voordat hy verder kan skilder.

Smit is tans in die sorg van Andre en Rika Oosthuizen van Jeffreysbaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article