Begrafnisse is ’n universele menslike manier om afskeid te neem van ’n geliefde, en sy lewe te vier. Ondanks kulturele verskille het begrafnisse tog ’n gedeelde doel . . . om te rou, herinnering te deel en afsluiting te kry. Dis ’n geleentheid vir vriende en familie om mekaar te ondersteun.
Behalwe vir die afskeid van familie en vriende, moes ek as joernalis al talle begrafnisse bywoon en daaroor verslag lewer. Die grootste een was natuurlik Nelson Mandela s’n. Ons radio- en tv-span het reeds maande vooraf planne en reëlings in plek gehad. Ons moes internasionaal direkte oorskakelings doen van die gebeure uit die Transkei by Mvezo waar hy gebore is, Qunu waar hy sy kinderjare deurgebring het, en Mqhekezweni waar hy ’n tiener was. Ek was vóór die begrafnis talle kere daar, en ten tyde van die begrafnis die anker in die Baaise kantoor.
Op ’n keer het ek by Qunu in die verte ’n groepie mense op ’n heuwel sien bymekaar staan. Dit was ’n Woensdag. ’n Tata het my toe verduidelik dat begrafnisse gewoonlik oor naweke gehou word en dan word ’n bees geslag. Maar as jy arm is…dan word dit in die wéék gehou en dan slag hulle net ’n hoender…seker soos die klompie daar op die heuwel.
’n Begrafnis wat groot opslae gemaak het was dié van Reeva Steenkamp, wat deur die destydse paralimpiese atleet Oscar Pistorius geskiet is. Met so baie ander nasionale stories, het dié een ook ’n sterk Oos-Kaapse kleur gehad. Reeva het in die Baai grootgeword en studeer, en haar ouers was hier. Op die sonnige oggend is haar kis getooi met wit en rooi rose. Ons plaaslike joernaliste moes meeding met die internasionale media wat hulle kameras en mikrofone ongeskik voor ons ingedruk het. Almal wou ’n spesiale skoot of klankgreep van die gebeure hê. Ironies genoeg was Pistorius terselfdertyd in die hof in Pretoria op aanklag van moord.
By die opspraakwekkende begrafnis van Jayde Panayiotou, die onderwyseres van Kariega wat deur haar man Christopher laat vermoor is, was dit ’n spanningsvolle geleentheid in die Katolieke Kerk. Eers het al die joernaliste verbaas na mekaar gekyk toe Christopher die uitsonderlike huldeblyk aan sy oorlede vrou bring. En toe die agterdog toe hy nogal as kisdraer met sy swart pak, nooit opgekyk het nie. Daardie aand nog is hy in hegtenis geneem vir die moord op sy vrou.
Toe Sarah Baartman se beendere op die heuwel by Hankey begrawe is, moes ons mooi trap op die klein area wat uitkyk oor die vrugbare Gamtoosvallei. Van die voormalige president Thabo Mbeki tot hoë lui in die Khoi gemeenskap het hulde gebring aan haar. Internasionale media agentskappe het ons behoorlik vertrap, en ek moes bontstaan om plaaslike gebruike en kulture te verduidelik – en kon so heelwat brûe bou.
Op Cradock het ek twee vreemde begrafnisse bygewoon.
Wel, die een was býna ’n begrafnis. ’n Apostel het voorspel dat hy op ’n sekere dag sou sterf. Hy het reeds die begrafnisbrief met liedere op laat druk, die gat is gegrawe en die kis het gereedgestaan. Ek en die kameraman, en honderde (voorlopige) begrafnisgangers met kisklere aan, het tevergeefs gewag. Hy leef steeds.
Dan was daar afskeid geneem van ’n oud-vryheidsvegter. Talle politici, waaronder Cyril Ramaphosa, was teenwoordig. Politiek en begrafnis loop dikwels langs mekaar, met opruiende toesprake. Toe die passievolle pastoor weer ’n keer “Halleluja!” sê met sy hande in die lug, spring sy boonste valstande uit sy mond…tot groot vermaak van die begrafnisgangers. Die gelui van die koperklokkie het almal tot bedaring gebring.



