- Catherine White from Jeffrey’s Bay, is a columnist for Kouga Express. She was born and bred in South Africa, but is currently pursuing her journalism career abroad. She writes opinion pieces on her experiences as a journalist working and travelling in Europe and visits to South Africa.
Vandag het ek weer my vlug verpas. Dié keer nie aspris nie! Ja-ja – ek het wel in Junie na my eerste Italiaanse trippie vir die grondpersoneel by die ‘boarding’ hek in Frankryk gevra om my bagasie van die vliegtuig af te haal: “Excuse me, I don’t want to take this flight to London anymore. Please can you remove my bag?” DIT nadat ek ‘n week tevore gedurende ‘n naweek in Milan díe man ontmoet het. My boodskap aan my ma toe ek Milan die eerste keer verlaat het: “Ek is verlief op ‘n Italianer en ek sit op ‘n trein op pad Monaco toe. Die Here moet my help!” Min het ek daardie dag geweet ek sou ses weke later sak en pak in Milan wees by die einste Italianer.
Na die Monaco trippie eindig ek op ‘n lughawe in Frankryk, maar ek wil nie terug London toe nie! Woerts warts en ek is vinnig terug in Italië waar my hart hoort. Verlief laat ‘n mens soms snaakse dinge doen. Dit was asof ek die buite-beheer-regisseur van my eie romcom was en my lewe ‘n ‘real life movie’ is. En toe besluit ek om sommer maar vir ewig hier te bly. Hier in Milan.
Só is ons op pad na die Suide van Italië waar my wonderlike Italiaanse kêrel ‘n familieplaas het. Dit is nou nie juis goed vir ‘n vegetariër om aan te trou by ‘n familie van slagters nie, maar hier is ons nou. Ek is mal oor die man! Lekker klim ons op die metro in Milan waar ons woon, na die sentrale stasie waar vandaan ons ‘n bus kry wat ‘n uur lank ry tot by die lughawe. Kyk, ons het geweet ons is laat en lekker debliksem in vir mekaar. Wie se skuld dit nou eintlik is, maak nie regtig in dié stadium saak nie. Maar dis mos lekker om kliphard op die bus te praat sodat almal ons kan hoor, en dít nog in die gebroke Engels van ‘n Italianer wat dinge kliphard sê – sonder konteks – vir ons audience wat my aanstaar: “An hour later you were still naked, my love!” O hemel… wat moet die mense dink, skaam ek my. En hy gaan aan en aan oor hoe “naked” ek was. Ek hak af: “Do you want to say it louder so we can paint a better picture for our audience. Particularly this guy, he loves this story,” terwyl ek vinger wys na die man wat konstant direkte oogkontak met my maak. En “just so by the way” sy “naked” is ek wat nog nie aangetrek is vir die dag nie! Ek hardloop nie kaal rond nie.
Hulle sê mos die belangrikste ding is location location location. Ek het geleer dit is translation translation translation. En toe: “And my love you were in the shower for an hour..” Ek walg! Hoe durf die man impliseer dat ek water mors. Ek kom mos van die Oos-Kaap af. Ek was dalk vir ‘n uur in die badkamer besig om elke rakkie en kassie en botteltjie-iets te herrangskik, maar “shower” vir ‘n uur? Nie ek nie! Ons audience word net al hoe groter. Ek voel ek sit in ‘n hof en pleit my saak vir elke Italianer op díe bus op pad lughawe toe. Hëen en weer… hier gat ons!
“I wouldn’t mind if this bus crashed right now,” sê ek moedeloos. Hy lag vir my wat pateties is. In ‘n stadium staan ek op en kyk of die mense daar agter ons nog kan hoor. Hier en daar gooi hy ‘n “I love you, my love!” in. En dan voeg hy by dat ons eintlik laat is want ek het besluit om 4 uur in die oggend pasta te maak. Van buite af klink dit seker soos ‘n sirkus.
En hier is ons nou; op ‘n bus, op pad na ‘n lughawe; de moer in gone laat vir ‘n vlug wat een van ons DALK kan maak as ons hol en almal uit die pad uit stamp. Nou beplan ons: hy moet maar gaan. Die tas is ongelukkig in my naam, anders was dit dalk ‘n ander saak. Sonder ‘n tas kon ons albei dit dalk maak, maar daar is mos ‘n sluitingstyd vir die inboek van tasse. Ons gesels lekker oor hoe die toonbank nou seker besig is om toe te maak; en ons maak droewig maar plannetjies vir die volgende stap. Hy moet hol. Ek sal probeer om die tas in te kry en die vlug te maak. Dan kyk ons maar. Anders vat ek ‘n trein.
En so mis ek die vlug. Hy nie. Hy verduidelik hoe hy op een of ander wonderbaarlike manier die vlug gemaak het: “It was crazy my love! I jumpED the line like an olympic game!!!” Ek weet toe al dat hy sy been seer gemaak het. Dit lyk sommer seer. Ek vra: “How did you injure your leg?” Die trotse antwoord: “The JUMP.”
Dit werk eintlik goed, want hy het ‘n scooter by die lughawe in Salerno gelos en die plan was om die tas daaraan vas te bind – boonop met albei van ons daarop! En vir ‘n uur lank die berge in te ry. Gelukkig kan hy nou die scooter huis toe vat en meer as genoeg tyd hê om ‘n motor te gaan haal gedurende my nuwe 7 ure lange reis. Altesame nog 6 ure op ‘n trein, maar eers NOG ‘n uur terug Milan toe op dieselfde blerrie bus wat ons lughawe toe gevat het.
Ek koop toe ‘n kaartjie na Salerno, maar klim op die verkeerde trein. Aspris. Gewoonlik gebeur dit per ongeluk met my en ek voeter die kant toe en daai kant toe en verdwaal in my glorie in. Ek het geweet dit was nie my trein nie, maar dit vertrek toe vroeër en sou ook vroeër by dieselfde stasie aankom. Anders sou ek 50 minute moes wag vir my trein. “What’s the worst that could happen?”
Carriage 6, sitplek 5C is beskikbaar. MY sitplek. Maar dit is nie lank nie, en ek besluit maar om die regte ding te doen en op die volgende stasie af te klim en te wag vir die trein wat ek bespreek het. Net-nou net-nou vang hulle my en ek moet NOG ‘n kaartjie koop. Hierdie geld-weggooi-storie moet end kry.
Ek is debliksem-in vir hom, want hy wou nie toelaat dat ek gister pak toe ons by die huis kom nie. Dit was laat en hy het gesê ons moet slaap en maar vroeg opstaan. Ons was op ‘n wonderlike uitstappie op die Moto Guzzi na Lake Como toe. Ek kan hom mos nie pla as hy wil slaap en ek wil pak nie. Probleem is – ek kon nie slaap nie! Eers moet die rak met plante geskuif word. My wonderlike nuwe vertikale plaas, soos hy dit noem, moet voordeur toe sodat die buurman na die plante kan kyk, want ons huidige Airbnb gas is useless. Hy bly in die huis vir die drie weke wat ons weg is.
Twee uur was dit slaaptyd, maar slaap kon ek nie. Dit was veels te warm! Italië in die somer is nie grappies nie. So, na ‘n nagmerrie of twee en wakker skrik van heat stroke, staan ek toe so 4 uur op om te gaan pasta maak. Ek was bekommerd oor die gorgonzola wat gaan af wees as ons terug kom. Ons mors mos nie met kos nie. “It’s the pasta! It’s the pasta my love,” blameer hy ons laat wees.
Eintlik het hy my jammer gekry. Toe ek uiteindelik so 8 uur die oggend net vir 20 minute gaan inkruip het met ‘n wekker gestel vir 8:30, het die dierbare ding my verder laat slaap. Hy het my wel met koffie wakker gemaak so net voor 11. So wie se skuld is die laatkommery nou regtig?
Volgende keer vertel ek meer van my ervaring in die Suide van Italië waar ‘n groep skoolseuns die vorige keer toe ons daar was, spontaan, kliphard, in ‘n restaurant vir my begin sing het: “Caterina van Suid Afrika!!!” Die mense in die Suide is anders as in Milan. Hulle is warm. Hulle is luidrugtig. Ek is mal daaroor.





