Foto ter illustrasie.

Foto: Argief

Van die lekkerste herinneringe van my pa Rudolph was die kere toe ons saam kaart gespeel het. Niks ingewikkeld nie. Ons het snap en veral rummy gespeel. Sommer al vroegoggend op die bed, of laatmiddag wanneer hy sy koerant neergesit het sodat ons kan speel. Ek weet hy het my dikwels láát wen, maar ander kere het hy my ’n streep getrek en goed geklop.

Ek het agtergekom mens kan nie altyd wen nie. Jou teenstander is soms slimmer as jy en kan jou uitoorlê. Dan is dit so opwindend as jy met die kaarte in hand wat vir jou gedeel is, die beste kan doen en bietjie strategies te werk te gaan. Dit kos heelwat dinkwerk en mens moenie oorhaastig wees nie.

En natuurlik moes ek leer dat elke speletjie reëls het. Dis glad nie lekker om saam met iemand te speel wat kroek nie.

Nou gedurende my aftreejare is dit opnuut aangenaam om kaart te speel met my kleinkinders, en vriendinne. Hulle het my die speletjie Canasta geleer. Dis groot pret en hou mens se brein skerp.

Die pak kaarte het my nog altyd gefassineer. Ek het al gelees dat daar benewens die sigwaarde van die kaarte, ook ander simboliek daaraan is. Benewens geestelike assosiasies, is daar 365 ‘kolle’ in ’n pak – net soveel as die aantal dae in ’n jaar. Die pak bestaan uit 52 kaarte – net soveel as wat daar weke in ’n jaar is.

Dan is daar 12 prent-kaarte in ’n pak wat vereenselwig kan word met die aantal maande van die jaar. Die vier verskillende soorte kaart – harte, diamante, skoppens en klawers – kan mens sien as die hoeveelheid seisoene van die jaar.

Enige gesoute kaartspeler sal weet hoe frustrerend dit is as jy ’n swak hand gedeel is. Dan moet jy kopkrap om die situasie om te draai. Jy moet planne beraam, ander se skuiwe dophou en oordeelkundig te werk gaan. Bowenal moet jy konsentreer, en daar moet noukeurig telling gehou word.

Met ons laaste saamspeel om die ronde tafel, het ek besef hoe die spel met kaarte maar nes die lewe is. Soms wen jy, soms verloor jy. Partykeer het jy ’n lekker hand gekry en kan jy sommer maklik die spel in jou guns draai.

Net so kry jy soms ’n slegte hand. Dit verg uitdagende besluite om die regte kaart uit te gooi of op te tel. Jy moet jou spanmaat in ag neem. Hoe lekker kan mens laaste lag as die ‘joker’ help om die nekslag toe te dien.

Dalk is die kaart van depressie, swak finansies, skewe tande, eensaamheid of siekte in jou pakkie. Dan moet jy woeker daarmee – daar moet ’n strategie en plan wees om aan te pak by iemand aan die tafel, of nog beter, om dit uit te gooi. Iemand langs jou het dalk die kaarte van vreugde, dankbaarheid, vriendelikheid, vrygewigheid of gasvryheid. Maak seker jy tel daardie kaarte op as dit jou beurt is.

Rangskik jou kaarte anders. Die uitkoms sal anders wees.

Of soos digter Adam Small in sy gedig Die Here het gaskommel, gesê het: “ die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval, daai’s maar al……daai’s all right pêllie….ons moenie worry nie.

Jy sal weer ’n kans kry, en dan val die dice anders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article