Altesaam 33 leerders se oë getoets waarvan 18 leerders verder gehelp gaan word deur gratis voorskrifbrille te ontvang. Foto: Verskaf


“GOEIE sig is van kardinale belang vir die sukses van matrikulante. Dit beïnvloed nie net hulle vermoë om in die klas te leer nie, maar ook om eksamens te skryf en deel te neem aan ander akademiese aktiwiteite.

“Swak sig kan lei tot probleme soos hoofpyn, moegheid, en konsentrasieprobleme, wat uiteindelik ’n negatiewe impak op akademiese prestasie kan hê,” sê juffrou Sharifa Louw, die takkoördineerder van Staan Rotsvas, ATKV- Tak van die Jeffreysbaai Komprehensiewe Hoërskool.

Om bogenoemde redes het Louw dit haar taak gemaak om in samewerking met Answa Pieterse van die ATKV-tak Brandervolts, Jeffeysbaai, onlangs ’n projek geloods deur die matriekleerders van die Jeffreysbaai Komprehensiewe Hoërskool se oë te laat toets.

Met die goedhartigheid en professionele diens van Leané Cilliers Optometriste, C-View Optometriste en Execuspecs Jeffreysbaai, is 33 leerders se oë getoets waarvan 18 leerders verder gehelp gaan word deur gratis voorskrifbrille te ontvang.

“Spesiale dank aan die ATKV-tak Brandervolts wat die vervoer van die leerders na die onderskeie optometriste moontlik gemaak het. Ons wil ook baie dankie sê aan elkeen wat die projek moontlik gemaak het,” het Louw afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article