Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Laas week was ek vir ’n blitsbesoek Kaapstad toe om, onder meer, my visum aansoek in te dien vir ’n beplande toer na Oostenryk, Duitsland en die Tjeggiese Republiek oor die Kerstyd.

Met die terugvlug, kom ek te lande langs ‘n lang Duitser. Hy en sy vrou en drie kinders het van Duitsland in Windhoek geland. Hulle het sowat ‘n week in Namibië getoer. Ons het langs mekaar gesit op hulle vlug van Windhoek na Gqeberha. Hier sou hulle ’n huurvoertuig kry en hulle toer van die Tuinroete begin tot in Kaapstad.

Dit was ’n gesellige gesprek, en hy was baie opgewonde dat ek binnekort sý land gaan besoek. Hier en daar het hy ’n Duitse woord ingegooi en my standerd sewe Duits het my nogal goed te staan gekom…darem so ’n bietjie meer as ‘Ich liebe dich’.

Ons het gepraat oor die wolke en son, en hoe hulle uitsien na die toer. Sy navorsing oor ons land was indrukwekkend. En toe…toe kom daai vrae. Hoe veilig is dit in Suid-Afrika? Geld apartheid nog? Is hier rassisme te bespeur? Ek moes mooi dink voor ek antwoord. Gaan ek hom nou vertel van die talle onlangse massamoorde en ontvoering? Sal ek hom vertel van die politieke kaskenades en die rooi berets se uitlatings? Sal ek hom sê dat hulle tog maar versigtig moet wees waar hulle loop? Moes ek sê van die parlement wat gebrand het?

O nee! Daar’s nie ’n kans dat ek hom gaan bang praat nie. Ek het losgetrek met die verduideliking dat die naam Port Elizabeth op die naamborde en ‘Gqeberha’ dieselfde plek is. Dat Port Elizabeth venoem was na Sir Rufane Donkin se vrou, Elizabeth, en nie die koningin nie. Ook dat die nuwe naam ’n Khoi naam is wat na ’n rivier genoem is wat deur die stad loop.

Ek het die lugwaardin in isiXhosa gegroet en bedank, en verduidelik dat om iemand in sy taal te groet, deure oopmaak. Ons het gewerk aan sy woordeskat. Hy kon in ’n ommesientjie sê ‘molo, lekker, baie dankie, totsiens, amaBokko en mamparra.’

Toe spog ek met ons Duitse verbintenis, die Volkswagen fabriek op Uitenhage (Kariega), ons wonderlike wyne en waar om daarvan te gaan drink. Ek vertel met oorgawe van ons fynbos, ons groot vyf en lieflike strande aan die Tuinroete. (Ek moes darem net waarsku oor die dosyne kere wat die spoedbeperking wissel tussen Plettenbergbaai en George!) Hy moes hoor van ons spog vrugte wat uitgevoer word, en dat veral sitrus vir ons land meer geld verdien as die motorbedryf – waarmee hy bekend is.

Gedagtig aan die tieners, noem ek toe van die Bloukrans rekspringery, en asemrowende staproetes in die Tsitsikammabos. Ek sê by die restaurante moet hulle bobotie, boerewors en malvapoeding bestel. Hy is ná die vlug net so opeklits oor ons Springbok wêreldkampioene, en ons entoesiastiese sportminister. Hy het dadelik notas op sy selfoon gemaak van die rooi bus in Kaapstad, die Truth koffiewinkel wat al drie keer aangewys is as die wêreld se beste, die biskop Desmond Tutu museum en wonderlike Kistenbosch.

Ons het hartlik gegroet op die Baaise lughawe. Ek hoor hoe hy die storie van die naam ‘Dawid Stuurman’ en ‘Port Elizabeth’ aan sy familie verduidelik. Tuis in my kooi wonder ek bekommerd of ek nie die Duitser maar tóg ’n paar waarskuwings moes gee nie. Sê nou iets gebeur met hulle? Maar…Sê nou niks gebeur met hulle nie!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article