EK is nou eenmal nie ’n baadjie-mens nie. Dit voel heeltyd of my bewegings gestrem word, of ek nie vrylik kan beweeg nie. Dit voel te formeel, hoewel baie netjies.
Maar gee my ’n trui wat sag om my lyf vou. Saam met my beweeg en my warm hou. Ek kan die moue opstoot as dit gemaklik begin uitrek. Dit neem die vorm van my lyf aan en hou my warm.
Dis hoe dit is van my vriendskappe wat al oor jare strek – sommiges van kleintyd af, ander van skooldae, en nog ander wat met die jare deel geword het van my lewe. Hulle pas soos ’n ou trui – ek is net bewus daarvan omdat dit my warm hou en gemaklik is.
Ander vriendskappe is weer soos uitgetrapte pantoffels. Hulle pas perfek en loop of slons saam met jou. Dit hou jou ook warm en is gemaklik en gee jou ’n koesterende gevoel. Dis ’n soort knusheid waarna jy smag na ’n lang dag.
Daar is ’n bekende sêding dat party vriende in jou lewe bly net vir ’n seisoen, dalk net vir ’n spesifieke rede of dalk ’n leeftyd. Party kom en gaan in jou lewe en los spore in jou hart… Party los modderspore, en ander se spore sou jy veel meer wou sien.
Ek het onlangs by ’n vriendin, Alma, in Johannesburg gekuier. Ons was saam op laerskool, hoërskool en onderwyskollege. Dis die grootste voorreg dat ons nog al die jare kontak gehou het.
Ons ken mekaar se ouers, huise, troeteldiere, broers en susters, het bygehou met lewensgebeure en loopbane. Nou is ons sowaar albei afgetredenes en oumas.
Net so is dit met Ingrid wat oorkant die straat gebly het. Ons het saam huiswerk gedoen, tienerdinge deurgemaak, saam vakansie gehou, en nou was ons as afgetredenes saam op ’n oorsese reis.
Dan is daar nog Edda. Sy was my beste maat op hoërskool, en ons het dadelik al die drade bymekaar as ons gesels of kuier, al sien ons mekaar min. Ons het saam ons eerste ete gekook, popmusiek geluister en met grimering eksperimenteer. Al het ons waar in die land gewoon, die pantoffel-vriendskap bly sterk.
Ansophie was my gemaklike trui, wat my altyd in liefde toegevou het in moeilike tye, en ’n kroon op my kop gesit het in goeie tye.
Haar ma was vir my ’n anker. By hulle het ek geleer om musiek te waardeer en te bid…selfs vir parkeerplek.
Later jare het Linda bygekom. Sy is ’n trui en pantoffelvriendin. Sy kan alles beter maak in ’n japtrap. Ons het al emmers vol saam gehuil van hartseer en van pret. Baie herinneringe gemaak.
Daar is soveel liefste mense wat ek al van ver af ken, en net gemaklik is. Daar is Levina met haar sagte aanslag en humor, Tersia wat alles weet en oor mooi koppies tee hartlik gesels, Naomi met wie ek sommer in dieselfde spreekwoordelike trui sit, Trudie en Trudy, Hilde, Christel, Adri en nog vele meer. Ons werk sag met mekaar, staan mekaar by, verdedig mekaar, is gemaklik en het agting vir mekaar.
Daar is niks so lekker as om met opgetrekte bene saam op ’n bank te sit, met pantoffels en/of ’n trui en van onthou-jy-nog dae te praat nie.



