SESTIEN gewigoptellers, waarvan 13 van Jeffreysbaai en Humansdorp, is vir die Oos-Kaapse span gekies wat van 14 tot 16 Junie in Johannesburg aan die Suid-Afrikaanse o.14-, jeug- en junior kampioenskap gaan deelneem.

Die groep sal in die April-vakansie aan ’n oefenkamp in die Baai deelneem.

Agt van die atlete is van die Laerskool Pellsrus op Jeffreysbaai, terwyl Humansdorp vyf lede in die span het.

Onder die meisies sal Su-Kelly Ruiters en Theolien Ruiters van Pellsrus hulle debuut vir die span maak, terwyl Marlin Matthews (Pellsrus), Juandré Kramer (Pellsrus), Lumar Karolse (Pellsrus), Ceyton Booysen (Humansdorp), Jerome Jacobs (Humansdorp), Sphiwo Grootboom (Humansdorp), Liam Lolly (Humansdorp) en Elrico Madatt (Gqeberha) onder die seuns die eerste keer aan die nasionale kampioenskappe sal deelneem.

Die afrigter, Pieter Pretorius, sê dis ’n uiters talentvolle groep van wie hy groot verwagtinge het.

“As ons die plaaslike deelnemers se totale vergelyk met verlede jaar se nasionale uitslae lyk ons kanse belowend. Ek glo ons gaan uiters suksesvol wees,” sê hy.

Die ontwikkelingsbeampte, Curvon Jacobs sê, “Ons is gelukkig dat ons die kern van verlede jaar se span kon behou, en kon aanvul met opwindende nuwe talent.

“Dis ook ’n groot hupstoot vir ons kanse dat ons ses deelnemers het wat verlede jaar aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem en die spantrofee in die jeug- en junior kategorie ingepalm het.

“Hierdie paar atlete is ons eerste stap in ons doel om die Oos-Kaap weer Suid-Afrika se nommer een provinsie te maak.”

Die Oos-Kaapse groep is:

Meisies: Su-Kelly Ruiters (Pellsrus), Theolien Ruiters (Pellsrus), Faith Arries (Pellsrus), Hayley Williams (Gqeberha), Leerah Williams (Gqeberha).

Seuns: Ruwellyn Bantom (Pellsrus), Marlin Matthews (Pellsrus), Juandré Kramer (Pellsrus), Lumar Karolse (Pellsrus), Jason Hallem (Pellsrus), Ceyton Booysen (Humansdorp), Isaih Miggels (Humansdorp), Jerome Jacobs (Humansdorp), Sphiwo Grootboom (Humansdorp), Liam Lolly (Humansdorp), Elrico Madatt (Gqeberha).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article