DIE Kongolese reënwoud is die spreekwoordelike speelgrond van twee jong safari-leiers. Hoe meer ongerep, hoe meer is hulle in hulle noppies. By die Odzala Nasionale Park hier het hulle al kosbare avonture meegemaak.
Adriaan Stander (34) was van kleins af gefassineer deur die natuur gedurende vakansietye saam met sy ouers Andries en Christa Stander (nou van Jeffreysbaai) en drie sussies.Hy was gelukkig om saam met hulle deur Botswana te reis, by Kariba vis te vang, die Zambesi en Chobe te besoek asook Etosha.
Kaalvoet konneksie met die aarde
Hy loop gewoonlik kaalvoet om behoorlik kontak met die natuur te hê. Dit was al tot sy voordeel toe hy met die pigmië stamme in die woude van Sentraal-Afrika in Gaboen te doen gekry het. Hulle het hom heeltemal aanvaar en noem hom “Grand Pigmee” omdat hy kaalvoet loop.
“Hulle het baie nuuskierige oë, en ons het met gebaretaal oor die weg gekom. As ’n passie gedeel word is taal nie nodig nie. Hulle noem my die eerste wit local,” borrel hy oor van entoesiasme oor die stories van die woud.
Adriaan is ’n privaat safari-gids en neem kliënte op roetes deur die diepste donker Afrika soos hulle dit graag wil hê. “Navorsing is uiters belangrik. Travelling kan oral gevaarlik wees. Ons verstaan darem die norme en kulture van die Republiek van die Kongo.”
“Daar was ’n keer dat ek moes vlug en my spore verdoesel en in ’n hangmat moes skuil in Oos-Gaboen. Die mense wil maar net hulle woude beskerm. Die tale wat meestal in Sentraal-Afrika gepraat word is Frans en ’n plaaslike taal, Ligala.”
Die boendoes is sy passie
“Dis my passie om die eerste wetenskaplike ontdekkings te maak, soos byvoorbeeld ’n rare padda of blom. Dit was so spesiaal om te beleef hoe die olifante bome omstoot om die mineraalryke modder te eet,” vertel Adriaan. Hy hou daarvan om na plekke te gaan waar mense nie gewoonlik gaan nie – veral om voëls te sien.
Sy gunsteling plek is Bai in Sentraal-Afrika waar jy tjoepstil moet sit en wag tot die diere uitkom. “Dan kom jy in aanraking met gorillas, olifante, papegaaie, apies, woudduikers, om nie te praat van al die voëls nie! Sy onderneming word nie verniet Barefoot Birding genoem nie.
Elke werk het sy gevare
Hy is al ’n keer deur ’n slang gebyt en moes drie dae in die hospitaal deurbring. Hy het ook al verskeie kere malaria gehad. Hy moes leer van watter wilde vrugte hy kon oorleef.
Voorbereiding en navorsing is noodsaaklik
Om gaste op ekspedisies te kan neem, het hy tydens sy opleiding in Hoedspruit baie ure voor die boeke en in die veld deurgebring. Hy het eers ’n paar jaar by lodges gewerk waar hy gaste eksklusief aan die Afrika natuur blootgestel het. “As fasiliteerder moet mens in die ongerepte areas altyd ’n satelietfoon hê, noodhulp-toerusting, ’n kompas, kaart, en noodnommers hê.
Hy vind geesgenoot in Daniella
Sy pad het met sy verloofde Daniella Kueck gekruis toe hulle saam opleiding gedoen het. Sy het eers ’n regsgraad aangepak, maar gou besef sy wou in buitelug werk, waar daar diere is. Sy was ook van jongs af saam met haar familie in die Kruger Nasionale Wildtuin. Sy het later daar gewerk as ’n gids. Daniella het mettertyd saam met Adriaan die Kongo ingevaar. Haar onderneming verwys na hulle albei se geboortesteen, Tanzanite Tours. “Ek wil graag mense help om hulle drome te bewaarheid deur vir hulle besondere reise te reël.”
Adriaan sê hy wil sien dat sy maatskappy stabiel is deur sowat agt groot safaris per jaar aan te pak, en ’n holistiese lewe te ly. En dan wil hy regoor die wêreld visvang.
“Ek hoop om aan te hou reis, en ook om familie en tuiste te hê,” droom Daniella.





