KOUGA KOLLIG | ‘Ons doen ‘n eerlike werk’ – karwagte deel hul verhaal

Susan Charlotte de Beer en haar lewensmaat Adriaan Koortz.
Susan Charlotte de Beer en haar lewensmaat Adriaan Koortz. Foto: Ellen Hancke

JEFFREYSBAAI – “So baie mense sien op ons neer. Kyk net weg as hulle ons sien. Of dink nie eers daaraan dat ons nie vir ‘n salaris werk nie.”

Aan die woord is twee karwagte van Jeffreysbaai, Susan Charlotte de Beer (54) en haar lewensmaat, Adriaan Koortz (51).

Die twee karwagte werk al onderskeidelik 14 en 9 jaar by die Fountains Mall op die dorp.

‘n Maklike lewe is dit beslis nie. Afgesien van lang ure op hul voete in die hete son, is daar ook die dae dat die wind erg waai en ook reën.

“En wat ons die hartseerste maak, is wanneer mense dink ons is lastig en ons nie eers groet nie. Ons gee nie om dat ons soms 50c of R1 kry nie. Ons doen ‘n eerlike werk en elke sent word waardeer.”

Adriaan beaam dat mense nie besef hoe dit voel om honger te gaan slaap en regtig swaar te kry nie. Beide van hulle geniet hul werk as karwagte en glo dat Jeffreysbaai na baie rondswerwery, die ideale dorp vir hulle is.

Susan was ‘n nooi Norval en sy is in Betlehem gebore en het ook daar skoolgegaan. Beide haar ouers was boorlinge van Oudtshoorn.

“Ek het wonderlike ouers gehad. My pa het op die Spoorweë gewerk en my ma was ‘n verpleegsuster. Hulle het na hul troue Betlehem toe getrek.”

Susan en haar suster Adele was baie geheg aan hul drie boetas. Deon is ‘n onderwyser in Australië, Richard wat ook ‘n tyd in Engeland gebly het, is ‘n sakeman in Pretoria. Hul boetie Thys is ongelukkig net na Covid oorlede.

Susan vertel dat sy in ‘n spesiale skool was, maar wonderlike waardes by haar ouers geleer het.

“My pa was baie streng met ons, maar ons het baie praktiese dinge by hom geleer. My ma was ‘n absolute engel, wat ons die beste in die lewe wou gee. Sy het ons geleer van netheid, trots, dankbaarheid en nederigheid.”

Susan het na skool Bloemfontein toe getrek om daar te gaan werk. Sy het daar begin as ‘n karwag, toe as ‘n assistent in ‘n groentewinkel gewerk, voordat sy getroud is en ‘n dogter, Janie, gehad het.

Susan het egter deur ‘n groot krisis in haar lewe gegaan. Sy het ‘n pos as ‘n voertuigbestuurder by ‘n groot afleweringsmaatskappy in Bloemfontein gekry.

“Ek het ‘n goeie salaris verdien en was baie gelukkig in my werk. Op ‘n dag het alles verander toe ek in ‘n baie groot ongeluk was.”

Sy vertel dat sy eers gedink het haar beserings was nie baie ernstig nie. Sy was drie maande in en uit ‘n staatshospitaal in Bloemfontein.

“Die wonde aan my een been was baie diep en het septies geraak. In die begin is die plekke toegewerk en toe het die moeilikheid begin. Later is die hele been weer oopgemaak, dooie weefsel is weggehaal en ek moes met die oop wond in die hospitaal bly lê.”

Susan sê dat sy toe verskriklik moedeloos en depressief geraak het. Haar familie het haar goed bygestaan en sy het bly glo dat sy nie haar been gaan verloor nie.

Sy het op ‘n dag besluit om terug te veg teen die dokters se diagnose, dat sy nooit weer sou kon loop nie.

“Ek het aan die begin met ‘n rolstoel oor die weg gekom. Toe met krukke begin loop en daarna vir ‘n jaar lank in die veld geoefen om weer te kon loop.”

Haar been keil haar nog steeds by tye op, maar haar positiewe ingesteldheid maak dat sy steeds kan werk.

“Ek het baie rondgeval en toe na Jeffreysbaai getrek omdat my sussie hier gebly het.”

Adriaan is op Potchefstroom gebore en hy het daar grootgeword. Hy het later ook hierheen getrek en die twee het dadelik aanklank by mekaar gevind. By geleentheid het hulle ‘n tyd lank in Gqeberha probeer werk kry en moes hulle vieruur in die oggend begin stap, om ‘n behoorlike diensdoenplekkie by die Greenacres Mall te kry.

‘n Wonderlike vriendin het hulle toe gehelp om nader aan die inkopiesentrum by haar te kom bly, maar die lewe in die stad was uiteindelik net te duur vir hulle.

Susan Charlotte de Beer en haar lewensmaat Adriaan Koortz.
Susan Charlotte de Beer en haar lewensmaat Adriaan Koortz. Foto: Ellen Hancke

Terug in Jeffreysbaai, was hulle gou weer op hul pos by die Fountains Mall.

“Ons werk onder ‘n wonderlike supervisor, Willie Viljoen. Hy is ‘n gebore karwag wat so mooi met die publiek werk, en ook vir al ons karwagte help om ons werk beter te doen.”

Adriaan sê dat die publiek dink dat hulle vir ‘n salaris werk. “Dit is dalk so in ander groot plekke, maar ons betaal ons eie taxigeld, ons eie bibs en ons werksetes en drinkgoed.”

Die paartjie is dit egter eens dat hulle nooit weer sal weggaan van Jeffreysbaai nie.

“Ons bly in ‘n klein woonstelletjie. Adriaan maak die kos en ek maak alles aan die kant en was die wasgoed. En ek hou ‘n oog oor Adriaan, hy mag glad nie gaan werk as hy nie geskeer het nie!”

Oor hul fooitjies is hulle baie dankbaar en hulle verdien gemiddeld saam sowat R200 per dag. Daar is egter ook dae dat hulle minder verdien.

“Ons kan darem elke maand ons huurgeld, ons kos en ons taxigeld betaal. En ons kon onlangs vir die eerste keer in baie jare, by my dogter en haar aanstaande en my twee kleindogters in Pretoria gaan kuier.”

Susan en Adriaan vertel dat hulle ook al meer as dubbeld geseën is, wanneer mense vir hulle ‘n ekstra fooitjie of ‘n koeldrankie of iets te ete gee.

Daar was ook al ‘n keer toe iemand hulle met R100 geseën het.

“Natuurlik is daar mense wat niks vir ons gee nie, maar ons bly altyd ordentlik en help veral oumense as dit nodig is,” sê Adriaan.

Hul diepste dankbaarheid is teenoor hul goeie supervisor en die eienaar van ‘n huurmotor wat hulle teen ‘n baie spesiale prys oplaai en laatmiddag weer gaan aflaai.

“Ons is die meeste aande maar baie moeg, maar ons geniet dit baie om langs die see te gaan stap. En ek speel graag speletjies op my foon,” sê Susan.

“My ma en pa sou baie trots op my gewees het as hulle kon sien dat ek nie opgegee het in die lewe nie, en dat ek alles onthou wat hulle my geleer het.”

LEES OOK: KOUGA KOLLIG | Wonderwêreld van kunstige wildsboer

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article