Wilhelm van der Walt, Seun
Gesoute akteur Wilhelm van der Walt vertolk die titelrol in ‘Seun’. FOTO: VERSKAF

JEFFREYSBAAI – Hoe word ‘n seun n man? En hoe word ‘n land nuut- of hergebore?

Hierdie woorde sou inderdaad voor die deur van Dana Snyman se biografiese karakter in sy treffende boek Seun en die daaropvolgende toneelstuk se tong geplaas kon word.

Kouga-kontrei se toneelliefhebbers kan met groot afwagting uitsien na een van die hoogtepunte by vanjaar se Kunskoors 2026 wat vanaf 1 tot 3 Mei op Jeffreysbaai plaasvind.

Seun met die gesoute akteur Wilhelm van der Walt in die titelrol, is ‘n stuk wat al met talle toekennings spog.

Dana Snyman is nie net bekend vir sy getroue karakters in vele van sy verhoogstukke, sketse en skrywes nie, maar oortref homself met die karaktergetroue jongman wat op sy eie karakter geskoei is en wat met vele binne-oorloë spartel.

Op ‘n brose 18-jarige ouderdom moes hy hoor dat hy geweeg en te lig bevind is vir die weermag. En sy predikantpa het saam met andere geglo dat dit sy seun na “wasdom” sou kon lei.

Wilhelm van der Walt, Seun
Gesoute akteur Wilhelm van der Walt vertolk die titelrol in ‘Seun’. Foto: Verskaf

Nie alleen moes dit vir Dana na ‘n nuwe verantwoordeliksfase voer nie, maar sou die verwarrende tagtigerjare se politiek hom ook boonop “met vele kwelvrae” laat.

Dana slaag briljant daarin om die oorgangsfases binne homself en ook in sy geliefde Vaderland te laat dubbelspoor na donkertes en ook na ligter oomblikke.

Wilhelm van der Walt is een van die land se top akteurs. Dit is dus ook nie vreemd dat hierdie produksie al met vyf toekennings spog nie.

Seun is ondermeer by Aardklop 2025 met die Beste Toneelaanbieding bekroon, het die Beste Regietoekenning aan Nico Scheepers besorg, die Gehoorgunstelingtoekenning gewen by Aardklop en het ook by Stellenbosch se Woordfees 2025 aan Wilhelm die Beste Eenmanvertoning besorg.

Die storielyn is een van enorme ontnugtering, moedige en verwarrende verwerking, kliefende verwerping en diepe selfondersoek.

Seun word op 1 Mei 2026 om 13:00 in die Oase Oudotorium opgevoer. Vir meer inligting en VIP kaartjies, kontak Soria Swart by 082 684 4350.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article