Magda en Erhard Louw
Magda en Erhard Louw sal op Vrydag, 20 Maart, by Teater by die See optree. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – Jeffreysbaai Toerisme en LC Events Services, ondersteun deur die Kouga Munisipaliteit, bied tussen 19 en 21 Maart 2026 die tweede Teater by die See aan.

Op Vrydagaand 20 Maart besluit Magda en Erhard Louw om die pad te vat en die verhoog te betree – so naelkouend en mompelend soos net hulle kan!

Die tema van hulle teaterdebuut is die liefde, maar die liefde uit Magda en Erhard se perspektief is effens anders as die liefde waarvan ons in boeke lees of in films sien. In hierdie teaterproduksie neem Erhard en Magda die gehoor deur die proses totdat hulle uiteindelik ook saam die waansinnigheid van die liefde en die lewe aanspreek.

Hulle gesels openhartig oor vergifnis, hoe om in die eg verbind te bly sonder om gearresteer te word óf daardie einste eg te verbreek.

Hulle pak die bul by die horings oor die groot lewenskwessies: leënessindroom, volpens-sindrome en al die ander sindrome wat mens maar moet aanvaar soos die middeljare jou genadeloos tref.

Magda en Erhard Louw
Magda en Erhard Louw sal op Vrydag, 20 Maart, by Teater by die See optree. Foto: Verskaf

Dit is ‘n komiese stuk, maar ook een met ‘n dieper boodskap – dat ons uiteindelik maar die pad met iemand wil stap, al irriteer hulle ons of dryf ons na drank! Die gehoor word deel van die ervaring met interaktiewe momente wat die grense tussen verhoog en saal laat vervaag.

Nadat soveel mense al genoem het dat hulle met hierdie twee karakters kan vereenselwig – en sover gaan om te sê dat hulle eintlik “Magda en Erhard is” – is dit ‘n wonderlike geleentheid om wêrelde saam te bring.

In die teater kan almal saam lag, saam huil en saam gesels oor die dinge wat ons almal uiteindelik gaan beleef: Oudword (of dit nou saam of alleen is), seerkry (fisies én emosioneel), en daardie wit lig wat ons almal elke dag, elke oomblik, ‘n bietjie nader wink…

Besprekings

Kaartjies vir alle Teater by die See vertonings is beskikbaar op Quicket.

Die volledige program kan besigtig word op Teater by die See se Facebook-blad asook Jeffreysbaai Toerisme se webblad.

Vir meer navrae kontak die Toerismekantoor op 042 293 2923 of 064 966 9933.

LEES OOK: Jeffreysbaai verwelkom tweede ‘Teater by die See’ kultuurfeesnaweek

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article