JEFFREYSBAAI – SY hou van krummelpap, rooi lipstiffie en sy wou graag ‘n skerpskutter of ‘n non word. Ook glo sy nie daar bestaan iets soos aftrede nie.
Boonop laat sy alles in die lewe moontlik, maklik en lekker lyk.
As ‘n mens Soria Swart, die skepper en direkteur van Kunskoors op Jeffreysbaai, wil volg, moet jy dit op ‘n drafstap doen.
Soria het ook al vele beroepe beklee. Onder andere dié van skoolhoof, arbeidsterapeut, lektrise by ‘n universiteit, navorsing in epidemiologie gedoen by die Mediese Raad en het verskeie rehabilitasiesentrums vir dwelmverslaafdes op die been gebring.
En boonop het Soria ‘n magdom kennis oor kinderontwikkeling in pak.
Wanneer ‘n mens dus hoor dat die energieke doener kleintyd aan disleksie gely het, dan staan ‘n mens nog meer verbaas oor al haar prestasies.
Soria het kleintyd gedink dat daar iets fout met haar onderwyseres was. “Ek het die mooiste stories uitgedink en geskryf. Punktuasie was egter nie deel van my skryfsels nie. En keer op keer het my skeppende werk met ‘n rooi geskribbel en ‘n baie lae punt teruggekom.”
Soria is een van twee dogters van twee talentvolle ouers. Haar pa was ‘n gerekende akademikus, terwyl haar ma drama op Stellenbosch studeer het.
Sy is dus van jongs af aan akademie en die uitvoerende kunste blootgestel. Haar kinderjare was egter nie altyd ‘n sprokiesverhaal nie. Sy was in nege verskillende skole en het gevolglik nie kans gekry om blywende vriendskappe te vorm nie.
“Ek was die skaam alleenloper wat altyd wou wegkruip. Selfbewus en onseker – ek is ook nooit na partytjies genooi nie.”
Tuis het sy egter met liefde en aandag gedy. Sy vertel laggend dat sy A-simbole vir Wiskunde en Skeinat gekry het en naby aan F-simbole vir tale en inhoudsvakke.
In haar matriekjaar was sy van plan om ‘n “soldoedie” (vroulike soldaat) op George te word. Haar ma het botweg geweier.
Op ‘n dag het haar ma tuisgekom van die VLV en vertel dat sy ‘n interessante praatjie oor arbeidsterapie gehoor het. Soria is na die voorligtingsaand, waar hulle meer inligting nageslaan het. Met dié skrapse kennis in gedagte, is sy ná matriek na die Universiteit van Stellenbosch toe.
Daar het sy haar studentejare baie geniet en op die mediese kampus se Studenteraad gedien. Een van haar heerlikste herinneringe aan daardie tyd was toe sy die enigste dame tussen agt mansstudente tydens ‘n Namibiese toer was.
Haar kinderdrome is altyd omraam deur die idilliese prentjie van ‘n gelukkige gesin. Min het sy geweet van die moeilike opdraande wat wag.
Verskeie herinneringe aan minder goeie tye was toe sy in die intensiewe eenheid van ‘n hospitaal vir haar lewe moes veg teen septicemia. Die dood van ‘n derde baba wat sonder seremonie in haar arms geplaas is, bly ook ‘n traumatiese herinnering.
Uitmergelende drie jaar se gespook met ‘n egskeiding terwyl sy ma vir twee kinders in die laerskool was, het ook sy tol geëis.
‘n Insident toe sy op ‘n staptog met 30 psigiatriese pasiënte in die Jonkershoekberge was, roep sy steeds helder op. Die psigiatriese verpleegster wat saam met die groep was, het gegly en teen die berg afgeval. Soria moes op haar rug agterna en die reddingspan het ure later eers met ‘n helikopter opgedaag waarna sy hulle na die ongelukstoneel moes beduie.

Een van die seerste ervarings was egter toe die groot liefde van haar lewe ‘n maand voor hul huwelik oorlede is.
Een van die mees traumatiese ervarings was egter toe sy na byna ‘n dekade as skoolhoof by Kings Kollege op Jeffreysbaai sonder waarskuwing afgedank is.
“Ek het nooit onderwys studeer nie, maar my werk as arbeidsterapeut het my holisties en met insig na kinders laat kyk. Ek het by ‘n klein skooltjie sonder naam, geen skooldrag, geen kurrikulum of ‘n skoolwapen begin.”
Kort voor lank het sy en haar personeel Kings Kollege uitgebou na ‘n spogskool. Daar is ook spoedig begin met aktiwiteite soos drama, kuns en sport.
Soria glo dat senior burgers ‘n veel belangriker rol in die gemeenskap moet speel, omdat hul ervaring en kennis op ‘n volgende geslag afgewentel moet word.
Haar credo is: “As jy wil, dan kán jy, en indien jy nie wíl nie, sal jy ook nie kan nie!”
Soria gek oor reis. Een van haar genotvolste reiservarings was saam met haar seun Frank Heinrich (30), ‘n sakeman van Kaapstad, en haar dogter Grietjie (27), wat eersdaags na Europa vertrek om daar haar doktorsgraad in oseanografie te gaan doen. Grietjie was ook die skipper van die seiljag vir hul vakansie na Kroasië vanaf Dubrovnik tussen die eilande deur.
Sy glo dat dissipline nodig is soos brood, sy is dol oor Neil Diamond en flieke, drink graag ‘n biertjie of whiskey, geniet tamatiebredie, kuiers op die stoep van haar gastehuis en sy laat alles lekker, moontlik en maklik lyk!





You must be logged in to post a comment.