JEFFREYSBAAI – Dit jubel en juig op Jeffreysbaai nadat ‘n voormalige Suid-Afrikaanse gewigoptelkampioen in Texas, Amerika ‘n skenking ter waarde van R12,000 aan die Pellsrus-klub op die dorp geskenk het.
Mona Pretorius, Suid-Afrika se beste vrouedeelnemer van alle tye, het ‘n pak en ‘n paar skoene gestuur om die jong atlete aan te moedig.
Haar skenking volg op die R5,000 wat ‘n Vrystaatse boer in November aan die klub oorhandig het.
Mona is die dogter van Pieter Pretorius, die Oos-Kaapse hoofafrigter. Hy rig ook Pellsrus se atlete af.
In ‘n brief aan die atlete skryf Mona: “Ek hoop julle lig groot weights met julle nuwe weightlifting suit en skoene.
“Dis ‘n groot plesier om dit te kan skenk aan sulke talentvolle atlete. Ek hou al julle lifting video’s dop wat my pa (coach Piet) vir my stuur en wat hy op Facebook sit.
“Julle almal is verskriklik talentvol en ek kan sien hoe julle nog baie gaan bereik in die sport. Onthou, die pad is nie altyd maklik om ‘n kampioen te word nie, maar dis wel die atlete wat kan deurdruk wat bo uitkom.
“Hou aan met julle harde oefening en ek hoop om julle eendag te kan ontmoet – dalk nog op die internasionale platform.”
Pieter sê sy atlete is in die sewende hemel.
“Al die opofferinge is die moeite werd as jy sien hoe ons atlete se harde werk en prestasies raakgesien word – selfs in die buiteland.
“Dis ‘n hartverblydende gebaar dat Suid-Afrika se bekendste gewigopteller ‘n skenking maak.
“Dit bring enorme vreugde aan die jong atlete, wat reeds golwe in die sport maak.
“Mona se bydrae is ook ‘n bewys van haar passie en dis duidelik dat die sukses wat sy oor baie jare behaal het diep in die familie loop.”

As deelnemer het Mona Suid-Afrika se naam internasionaal hoog gehou met ‘n silwermedalje by die wêreldkampioenskappe en ‘n brons by die Statebondspele.
Die Laerskool Pellsrus se gewigoptelspan het reeds naam gemaak en sewe Suid-Afrikaanse jeugkampioene opgelewer, insluitend die beste algehele o.14 manlike gewigopteller, in net ‘n jaar van kompetisie. Die skenking sal ongetwyfeld die jong atlete motiveer en inspireer om aan te hou streef na grootsheid.

Met die Vrystaatse skenking het Lumar Karolse nuwe skoene gekry. Met die nuwe skenking kry Lumar ook die pak omdat hy Suid-Afrika se kampioen van kampioene is, terwyl die skoene aan die uiters belowende Jason Hallem oorhandig sal word.






You must be logged in to post a comment.