PATENSIE – Dit is ‘n algemene gesig dat daar op meeste plattelandse dorpies ‘n padstal is by of naby die ingang van die dorp.
En uit gesellige kuiers om die vuur en onder die skadubome, is dit duidelik dat dié ondernemings ‘n reuse rol speel in die gemeenskap – nie net ekonomies nie, maar ook sosiaal.
By Patensie is die bekende Tolbos. Daar kan jy nie net die allerlekkerste eetgoed kry nie, maar dis ook bekend as die inligtingsentrum na die poort van die Baviaanskloof.
By Tolbos is ook sommer die toeriste inligting waar jy alles kan verneem – van kampplekke en 4×4 roetes, tot voëlsoorte en plantname.
Met die posdiens wat nie meer so waffers is nie en ‘n groot toename in die aflewering van aanlyninkopies, is Tolbos die spilpunt. Hier is glads ‘n spesiale rak ingerig vir dié aflewerings.
Daar is gereeld ‘n groep vroue wat hier bymekaarkom om naaldwerk te doen en mekaar te bemoedig en te inspireer. Hier pluis hulle kwessies uit oor droogtes, vloede, kontantvloei, peste en plae – want hulle staan hulle boere by.
Daar in die hoek onder die bome sit ‘n paar boere met hulle two-tone hemde, khaki kortbroeke, “bootse” en bruingebrande bene, en oë wat skrefies trek soos hulle planne beraam.
Deesdae is daar ook gereeld vasvrae-aande waar spanne teen mekaar meeding. Hulle ontsien ook geen moeite om die buite area te omskep in ‘n konsertarea nie. Kunstenaars kom tree graag hier op. En geniet die groot verskeidenheid wyne.
In die Covid-tyd het dié padstal ekstra moeite gedoen om kos by kliënte te gaan aflewer. Skole het kinders se boeke daar afgelaai, en ouers het weer die leerlinge se werkopdragte daar gaan los.
As die verduideliking van roetes te ingewikkeld raak, dan spreek mense af om mekaar by Tolbos te kry. Dis die hartklop van die Gamtoosvallei.
Hoewel die ekonomie knyp, is hier altyd iets vir die toeris en gemeenskap. “Gaan vra maar net daar by Tolbos – hulle sal jou kan help,” hoor jy al te dikwels. En hulle kán. Carin, Lana, Hetsie en Estelle weet watter paaie is begaanbaar, hoe die stand van die Kouga dam lyk en waar jy self kan gaan aarbeie pluk.
Die padstal is die beste plek om plaaslike vars produkte te kry. Ook vars gebakte brode, vars kontreistories en outydse gasvryheid. Dis die moeite werd om vir kontreikos, waaronder roosterkoeke en ghokum konfyt, die langpad uit die stad aan te durf.
Verder aan in die rigting van die Baviaans is Padlangs, waar al dié lekkertes ook te kry is. Die omgewing is sielsverrykend. Niks kom by ‘n heerlike ete in vars lug onder koeltebome nie. By albei kan kinders baljaar tot hulle tonge uithang!
Maar ook in ander rigtings is sulke kontrei-juwele. Oppad na Kirkwood, naby Addo, by Nanaga, Daggaboer naby Cradock, om maar net ‘n paar te noem.
Vat ‘n bietjie die mooi pad na Port Alfred en doen aan by die interessante en kleurvolle plekke wat deur die gemeenskap opgebou is.
Hoe lekker is dit dan om met ‘n kardoes vars pasteie, pynappelsap, roosterkoeke en konfyte by die huis aan te kom en die geure van die gasvrye platteland nog ‘n bietjie langer te smaak.




