VERONICA VERTEL | Om lojaal te bly aan ‘n haarkapper, tandarts of dokter

hair styling generic
Foto ter illustrasie. Credit: Pixabay

JEFFREYSBAAI – Ek verstom my altyd as ek hoor van mense wat byna elke keer na ’n ander dokter gaan.

Of van een na die ander haarkapper en tandarts. Dis vir my ’n saak van lojaliteit. En daarby bou ‘n mens mos ’n verhouding oor die jare.

Dis nou al vier jaar dat ek Kariega verruil het vir Jeffreysbaai. Ek is baie gelukkig hier en dis die beste besluit wat ek geneem het.

Hoewel ek my vriendekring daar baie mis, kan ons darem nog kuier. Ek het gou gevestig geraak op die Skulpiesdorp en die winkels en diensverskaffers leer ken. Hier is alles wat mens nodig het, en hoef so te sê vir niks spesiaal Baai toe te ry nie.

Dis nou net die kwessie oor die tekort aan ’n hospitaal wat haper. Alles kan hier gedoen word.

Ek het egter besluit om maar die pad Kariega toe te vat wanneer dit tyd is vir tandartsbesoeke. Ek en Dr. Tabu kom al ’n leeftyd saam. Ons ken mekaar se gesinne.

Verneem altyd op die naam na die kinders en volg hulle lewens. Ek en sy liewe vrou Marié verjaar selfs op dieselfde dag. Ek vertrou hom met my tande. Dis nogal ’n affêre om in daai stoel te gaan sit-lê. My hart klop steeds vinniger van afwagting vir die gegrawe in my mond.

Maar sodra hy met sy masker en vaardige vingers sy werk doen, is die effense angstigheid weg! En as hy dan sê: “Daar’s hy!” is dit steeds die mooiste woorde wat ek kan hoor: dis klaar, verby, en dit was nie seer nie! So was dit ook weer die afgelope week.

So is dit ook met Dr. Bruce. Ek het vir die eerste drie jaar hier op my nuwe dorp maar Kariega toe gery – na hom toe vir wat ook al geskort het.

Ons is saam deur dik en dun. Altyd het hy kundige verduidelikings. Maar om verskeie redes het ek hier aangemeld by ’n nuwe dokter-vriend, met wie ek nou ook ’n gawe pad stap.

Ek sal nog steeds na my geliefde fisioterapeut Salomé op Kariega ry. Sy het my deur donker dae gehelp om weer te loop, pyn verlig wanner geen pil wou help nie, en sommer opbeurende gesprekke tussen die plakkers en naalde deur gesels.

Van die beserings tydens ons motorbotsing jare gelede, tot met stutte en rekke help sy. Selfs na-ure is sy ’n kampioen.

’n Vrou se haarkapper is seker haar grootse bondgenoot. Vir meer as dertig jaar het ek en Lourika nuwe style en kleure uitprobeer.

Ook saam deur baie dinge gegaan en mekaar hoog gehou. Ek het tot op die einde toe se onlangs oorlede is, maandeliks na haar gery op Kariega. My hart is baie seer. Dit het my genoop om ‘n nuwe haarkapper te vind. Ek glo met Heidie sal ek ’n band vorm.

Liewe Alana was my skoonheidsterapeut op die motor-dorp. Sy het presies geweet hoe om my mooi te maak sodat ek kop omhoog kon uitstap by haar salon.

Dis weer tyd om daar ’n draai te maak. Niks skort met die dienste om my nuwe dorp nie…dis net, ek het ’n lojaliteit en daar is ’n bekendheid aan mense wat jy van ver ken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article