VERONICA VERTEL | Los die blomme – bring die gereedskapskissie!

toolbox generic
Foto ter illustrasie. Credit: Pixabay: Clker-Free-Vector-Images

Die een ding waarvan ‘n vrou – veral enkellopendes – nie van beskuldig behoort te word nie, is versukkeldheid.

Hier bedoel ek nou dat ‘n vrou minstens ‘n elektriese prop moet kan aansit, ‘n gloeilamp kan vervang en darem met ‘n skroewedraaier kan werk.

Elke vrou behoort haar eie gereedskapskissie te hê met ‘n maatband, knyptang, hamer, twee verskillende skroewedraaiers, ‘n paar skroewe en verskillende spykers, ‘n paar gloeilampe, kleefband, ‘n verskeidenheid wassers, gom en kabelbinders.

Gevorderdes kan belê in ‘n saag en boor.

Dit is my gunsteling kombuistee-geskenk vir jong vroue. Dit bemagtig ‘n vrou om nie in ellende te sit wanneer ‘n gloeilamp die gees gee, of die strykyster se prop die gees gee nie.

Daar is niks wat ‘n vrou so broos laat voel as wanneer iets breek en sy dit nie kan regmaak nie. Met die gereedskapkissie kan jy darem iets probeer.

Natuurlik is daar beperkings. Ons is soms net nie sterk genoeg om bv, ‘n band om te ruil nie, of ‘n parmantige, lekkende kraan te laat ophou piepie nie.

Ek wens ons kon êrens leer hoe die meganisme van ‘n toilet werk. Sonder uitsondering lek ‘n toilet een of ander tyd, of die water hou aan loop. Ontbied jy ‘n kundige, word dit in ‘n japtrap gefieks.

“Dit was net ‘n nuwe wasser wat geskort het, Mevrou,” sê die loodgieter tevrede terwyl ‘n rekening van honderde rande oorhandig word. Met jou wasser in die gereedskapkissie kon jy dit self gedoen het, as jy net geweet het hoe!

‘n Entrepreneur kan gerus die geleentheid benut om vroue te bemagtig met die huishoudelike nutswerkies. Net soos mens ‘n kunsklas sou bywoon, kan ons ‘n nutswerkklas bywoon

In ‘n onlangse meningspeiling lees ek dat mans se top behoeftes fisiese bevrediging en ‘n vol maag is. En vrouens s’n? “Help my!” ‘n Vrou wil gered word, sy hou daarvan om ‘n held te hê.

My pa Rudolph was so ‘n held vir my. Hy het alles in en om die huis so mooi onderhou. Sy garage was vol tower gereedskap. Ek onthou hoe die sweet van sy voorkop gedrup het as hy met ‘n bobbejaan spanner ‘n halstarrige buitekraan losdraai.

So ook as hy sorgvuldig maskeerband plak en dan versigtig verf. Waar ‘n deur geskweek het, was hy gou by met die oliekannetjie. Losserige skroewe van die bank op die stoep is in ‘n japtrap vasgedraai. So hou ek daarvan.

Nou sit ek met ‘n beneukte veiligheidsdeurslot, gat in die kombuisplafon na ‘n waterlek, twee toilette wat lol, gate vir prente wat geboor moet word, ‘n kraan wat lek, ‘n buitedeur wat lol na reën en ‘n garagedeur wat met die weer gepla is.

Ek het goeie raad vir mans wat wil vlerksleep, of die vrou in hulle lewe wil verras op haar verjaarsdag: Moenie nog sukkel met blomme of sjokolade as jy gaan kuier nie.

Nee wat! Daag op met jou gereedskapskis, boor, saag en verlengingskoord, en na die eerste koppie koffie vra jy: “Hoe kan ek jou help?” (Sonder om te sug of die oë te rol!).

Ek kan jou waarborg jy gaan iets smullekker kry om te eet, en wie weet wat nog. Dis mos nou ‘n wen-wen situasie!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article