Daar word soms gesê dat kampmense heeljaar spaar om aan die einde van die jaar uit hulle gemaklike huise te trek om dan soos plakkers te woon in ‘n karavaanpark of langs ‘n rivier.
Ek het as kind nie grootgeword met kamp-en karavaanvakansies nie – ons het meestal by familie gekuier. Die gekampery het aanvanklik vir my ook maar na ‘n ongemaklike gedoente gelyk. Maar gaandeweg het ek danksy vriende met dié heerlike manier van vakansiehou kennis gemaak, en my siening het verander.
Dit was sommer van meet af aan vir my duidelik dat kampmense lekker mense is. Hulle is vriendelik, ontsien geen moeite om mekaar te help nie en is verdraagsaam. Dis veral nou dat heelwat van my vriende afgetredenes is, dat hulle sommer in ‘n japtrap tent opslaan of die karavaan haak.
Johanna en Andries maak die beste van hulle dae. Hulle kamp gereeld saam met die karavaanklub op verskillende lieflike plekke, of sommer op hulle eie. Ek kan my verkyk aan die kort paadjies wat hulle oor die jare ontwikkel het om dié leefstyl so gemaklik moontlik te maak, sonder om té gesofistikeerd te wees. Andries het bv.‘n klein sonpaneeltjie aangebring wat sorg vir lig saans. Johanna het kratte wat altyd regstaan om net gelaai te kan word – die inhoud word gereeld aangevul.
My vriende Ben en Danita kan in ‘n japtrap haak en vertrek. Ben se gesondheid is nie waffers nie, maar hy meen as hy by die huis in die bed bly, kan hy net sowel langs die see in die karavaan lê, met die sorgsaamheid van sy vrou.
Dan is daar die vriendinne Silla en Marietjie, oorspronklik van Welkom. Die twee oud-verpleegkundiges het hulle huis en inhoud verkoop, ‘n kampwa gekoop en toer nou al drie jaar lank deur die land. Hulle leef nou hulle droom. Hier staan hulle ‘n maand, daar drie maande of maak soos die wind hulle waai. Hulle is albei raakvatters en laat hulle nie omvergooi deur sterk wind of reën nie. Hulle is knap ingerig met al die nodige geriewe –selfs ‘n toilet. Daar is tot ‘n ‘skildery’ in die tent langs die kampwa. Dié heet Padlopertjie.
Maar dis nie al nie: hulle drie worshonde en twee ou katte toer tog te lekker saam.Ek het al ander mense gesien wat hulle voëltjies in hokke saamneem.
Ek verwonder my daaraan om te sien hoe vinnig kampers kan kos maak. Maar dan besef ek dit was nie eintlik so vinnig nie – die tyd het net gevlieg omdat almal saam sit en gesels en stories uitruil om die vuur. Voor jy kan sê ‘mes’, is die kos gereed.
Om deur die kampeerterrein te stap is ‘n belewenis om te sien hoe elkeen op sy besondere manier ingerig is. Party tente is getooi met gekleurde liggies en ander met vlaggies. En die geure van braaivleis en ander geregte op die oop vuur prikkel die smaakkliere.
Die samesyn is so kosbaar en dit lyk my die land se probleme word om vure opgelos. Kampers is dit eens dat die buitelewe in die natuur vir hulle salf vir die siel is.




