’n Tienermeisie was Vrydagaand onder die mense wat deur die Humansdorp-polisie aangekeer is.
Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring 18 mense is tydens opera-sies in die Humansdorp-polisiëringsgebied in hegtenis geneem. Dit was deel van ’n misdaadvoorkomingsplan vir die gebied.
Die 16-jarige meisie is saam met sewe ander mense vir die besit van dwelmmiddels soos dagga en mandrax aangekeer.
Vier voertuigbestuurders is vir dronkbestuur vasgetrek, drie mense is gevang vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en ’n vrou is vir diefstal in hegtenis geneem.
Die polisie het ’n inwoner van Kareedouw met R2 000 beboet omdat hy ’n onwettige taverne bestuur het, en het beslag gelê op 45 liter drank.
Brig. John Lebok, bevelvoerder van die Humansdorp-polisiëringsgebied, het die beamptes vir hul goeie werk geprys.



