TWEE Zumba-instrukteurs van Cradock se name gaan in die Guiness Book of Records verewig word nadat hulle deel gevorm het van die Port Eliabeth se groep wat verlede naweek die rekord vir ’n aaneenlopende Zumba-sessie met ses ure verbeter het.
’n Boorling van Cradock, Teresa van Zyl Drake, vertel dat sy vier maande gelede besluit het om ’n wilde perd op te saal en ’n poging aan te wend om die huidige wêreld-rekord van ’n 24-uur aanhoudende Zumba-sessie deur ’n groep, te verbeter.
“Die huidige rekord is 24 uur en word gehou deur die Verenigde Koninkryk. Die sessie wat in die Baai plaasgevind het, het Vry-dagoggend, 27 September om 07:00 by Sunridge Village begin en Saterdag, 28 September om 13:00 – 30 uur later – gestop.
Twee dinamiese jong instrukteurs, Dehan Stroebel en Robin Jordaan wat in Cradock Zumba-klasse aanbied, het nie gehuiwer om saam in die Baai te gaan dans nie.
Hulle Kolombiaanse Zumba-styl het die deelnemers van 23:00 tot 05:00 deur die nagskof van die Zumba-sessie gedra.
Vrydag het almal hul beste Zumba-voet- jies voorgesit toe televisiekameras opge-daag het om hulle in ’n bloedige 37°C te verfilm.
Die geleentheid was ’n groot sukses met die hulp van sewe instrukteurs en meer as 150 deelnemers wat dertig ure lank heupe geswaai het.
Die reëls was dat minstens 10 mense bo 16-jarige ouderdom te alle tye deur ’n Zumba-instrukteur begelei moes word.
Dehan en sy ma, Spokie Stroebel, het in Januarie vanjaar met Zumba-klasse in Cradock begin. Die klasse se gewildheid het hulle stoutste verwagtinge oortref en kort voor lank moes hulle twee klasse per dag aanbied.
Jordaan, wat een van hul eerste studente was, het later by die span as ’n instrukteur aangesluit. Klasse word aangebied onder die vaandel van Zumba Karoo.
- Vir meer inligting kan belangstellendes hulle op sosiale media volg of vir Spokie op 083 560 3355 bel.



