Hier is Ysterkat met (agter van links) Jacques Jordaan (CAT Delta), Danie Gerber (Supa Quick & Tyre Mart), Lou Venter (Lou Juweliers en Arms & Ammo), Antoinette Joubert (JW Auto), Jean Nortjé (Locker Room), Jacques Gerber (tesourier), Carien Bruwer en Penny Els. Voor is Marthinus Bekker (JW Auto-verkoopsman) en Eugene Gerber (Precision Steel). Foto: WILNA DE KLERK

YSTERKAT, die Mahindra Bolero bakkie in diens van Cradock Gemeenskaps- forum, se wiele het verlede week vir die eerste keer oor die dorp se strate gerol toe hy amptelik in diens geneem is.

Lou Venter van die forum sê daar is besluit om die bakkie Ysterkat te noem, “omdat Penny Els altyd die ander vroue van die forum aanmoedig deur te sê hulle is “Ysterkatte” vir die harde werk wat hulle verrig.”

Cradock Gemeenskapsform is sowat 18 maande gelede gestig om dié dorp reg te ruk sodat dit weer as een van die Karoo se mooiste dorpe kan bekendstaan.

Munisipale take wat die afgelope 20 jaar verwaarloos is, is deur inwoners en sakemanne van die dorp opgeneem om te herstel en verbeter.

Hope vullis is verwyder, slaggate in strate is toegemaak, tuine is op die dorp aangeplant en die kerkhof is skoongemaak. So is ’n watervoor uit die Groot Visrivier ook skoongemaak en herstel. Dié voor was vir etlike jare verwaarloos. Selfs die stortingsterrein is weer begaanbaar gemaak.

Lou Venter van die forum sê daar was ’n groot behoefte om ’n bakkie te kry om vir dié opknaptake aan te wend.

Carien Bruwer, een van die harde werkers om die dorp weer mooi te kry, het voor die koms van Ysterkat, goedgunstiglik haar bakkie vir forum- sake beskikbaar gestel.

Venter sê, “Ek het vir ’n goeie tweedehandse bakkie gesoek, maar kon een kry nie. Dit is toe dat Pieter Joubert van JW Auto aanbied dat ek ’n nuwe Mahindra Bolero teen kosprys by hom kan kry.

“Ek het na plaaslike besighede gegaan en hulle gevra of hulle ons sal bystaan met Ysterkat se paaiemente en versekering.”

Almal was bereid om te help en daarom ry Ysterkat nou trots in die dorp met dié borge se name op sy bakwerk.

“Oral waar die bakkie ry en selfs op sosiale media, kry hierdie sakemense wat die forum se werk ondersteun nou goeie blootstelling,” sê Venter.

Eugene Gerber van Precision Steel het tralies en trappies vir Ysterkat voorsien waaroor die forum baie dankbaar is.

Terwyl forum-lede in die oggend agter die stuur van Ysterkat inspring om die dorp reg te ruk, klim Essie Esterhuizen in die middae in om sy deel vir die dorp te doen.

  • Venter sê enige inwoner of besigheid wat wil help om Ysterkat se wiele aan die rol te hou en so die dorp te dien, is welkom en kan met hom kom gesels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article