YSTERERTSVRAGMOTORS, waarvan daar soveel as ’n duisend per dag deur Cradock ry, beskadig nie net die dorp se infrastruktuur nie, maar is ook ’n groot gevaar op paaie.
Dié probleem is op die spits gedryf deur die mees onlangse ongeluk toe ’n wegholtrok vanaf Middelburg se rigting Cradock teen hoë spoed binnegery en met sy twee sleepwaens oor die brug en oor drie stopstrate gejaag het. Dit is eers tot stilstand geruk toe die twee sleepwaens omgeslaan en die erts die straat vol gerol het.
“Dis net ’n genade dat niemand dood is nie aangesien die ongeluk in ’n besige deel van die dorp plaasgevind het,” het Charles Garth, ‘n bekommerde inwoner, gesê.
Wilhelm Smit, voorsitter van Cradock Sakeforum, meen die vragmotors wat te vinnig teen die hoogte net buite Cradock afkom, is deel van die pro-bleem.
“Daar is wel tekens dat spoed verminder moet word na 60 km/h, én ’n teken wat trokke beveel om na ’n laer rat af te skakel, maar baie kenners dink 60 km/h is steeds te vinnig vir daardie swaar voertuie teen ’n afdraende.”
Smit het dit beklemtoon dat nie alle vragmotorbestuurders vinnig teen die hoogte afkom nie, maar SANRAL sal volgens hom ’n plan moet maak om die probleem op te los.
Retief Odendaal, LUR en DA leier in die Oos-Kaap, het ook sy stem by dié van die bekommerdes gevoeg. Maar na een vergadering met SANRAL én verskeie skrywes aan dié instansie, waarvan die jongste op 5 Desember was, was daar nog geen terugvoer nie.
Ongelukke waarin ysterertsvragmotors betrokke was sedert die onderhandelinge met SANRAL begin het, sluit in dié van ’n bestuurder wat buite die dorp beheer oor sy vragmotor verloor en uitgespring het. Daarna het die vragmotor in ’n kontrakteursonderneming se store ingejaag.
“Gelukkig was dit na 17:00 so die werkers was al huis toe,” het Garth gesê.
Daar was ook voorvalle van ysterertsvragmotors wat geparkeerde voertuie baie erg beskadig het, by ’n vermaakliheidsplek deur bome gebars, ’n kragpaal afgery en teen ’n gebou tot stilstand gekom het en ’n ander wat deur ’n wegneemrestaurant gery het.
Smit sê hulle is ook geskok oor die manier waarop sommige van die vragmotorbestuurders die dorp se infra-struktuur vernietig deur op sypaadjies te parkeer en nie by die hoofpad deur die dorp hou nie, maar deur die woongebied te ry en gevolglik die reeds voosgeryde strate nog verder sat te trap. Met die verkeer wat na verwagting vanaf vandag, 16 Desember 2021 geweldig gaan toeneem op hoofpaaie, kan Cradockers net asem ophou dat die dorp geen treurspel beleef nie.

