’n OPTOG van sewe of agt Wolsak-lorries gaan die Donderdag of Vrydag (20 of 21 Desember) voor Kersfees weer ’n optog deur die Michausdal- en Lingelihle-woongebiede in Cradock se hoofroetes ry om die boodskap van Kersfees te versprei.
Volgens Corné Gerber behoort die vragmotors aan haar ma en broer en het hulle ook verlede Kersfees en tydens Paasfees deur die woongebiede gery om lekkers en eetgoed vir die kinders uit te deel.
“Die verkeerspolisie vergesel ons gewoonlik en met die groot klomp vragmotors met liggies versier wat in ’n ry deur die strate beweeg, trek ons baie aandag,” het Corné vertel.
Sy is druk besig om lekkers vir die ge-leentheid bymekaar te maak en wil die gemeenskap wat ook hul deel wil doen, uitnooi om toegedraaide “loslekkers” te skenk.
Wolsak-lorries wil met hierdie poging hul deel vir minderbevoorregtes doen en ook dankie sê vir die gemeenskap se ondersteuning dwarsdeur die jaar.
Corné kan op 072 315 2267 gekontak word. Sy sal bydraes by die verskillende donateurs gaan afhaal.


