Marlow se o.15A-rugbyspan het Saterdag teen Fichardtpark gespeel en gesorg vir ‘n goeie oorwinning van 21 – 10. Gian Steyl, van Marlow, is hier op die aanval. Foto:VERSKAF


DIE Marlow Landbouskool het Saterdag aan Fichartdpark se sportdag in Bloemfontein, met ses rugbyspanne deelgeneem. Die Wolramme speel kookwater rugby in al die kragmetings. Vyf spanne het vir Fichardtpark ’n behoorlike rugbyles ge-leer en die o.16A span klop vir Noord-Kaap oortuigend.

Marlow se 1ste span speel in die hoofwedstryd teen Fichardtpark, wat ook die gasheerskool was. Beide spanne begin die kragmeting met mening. Marlow teken eerste punte aan deur losskakel, Herman van Biljon, wat slaag met ’n strafdoel. Marlow word met tye in hul kwartgebied vasgedruk deur die tuisspan. Die Wolramme maak sake egter vir hulself ook moeilik met verkeerde opsies wat uitgevoer word. Fichardtpark het egter ’n groot fout gemaak met ’n bal wat hul losskakel nie uitgeskop het nie. Josiah Weideman, linkervleuel, het ’n droom wedstryd beleef en kapitaliseer op hierdie fout van die tuisspan. Josiah klop vier verdedigers en gaan duik oor vir Marow se 1ste drie. Haltydtelling was 8 – 0 in Marlow se guns.

In die tweede helfte speel Marlow beter konstruktiewe rugby en die aggressiewe spel van die besekoers was net te veel vir Fichardtpark. Josiah gaan kuier agter die doellyn vir sy tweede drie, nadat die tuisspan ‘n swak opsie uitoefen met ’n kwartgebied inskop. Herman slaag met die doelskop. Hierna gaan druk Josiah sy derde drie, nadat Marlow se kaptein, Jaco Vermaak, met brute krag oor die voordeellyn beur. Hierdie krag spel plaas Marlow op die voorvoet en Josiah rond af in die hoekie. Fichardtpark het egter moedig probeer en teken hul eerste punte aan nadat hulle vanaf ’n lynstaan mooi dryf en met twee fases daarna oorduik vir hul drie. Marlow speel in die laaste vyf minute van die wedstryd hul beste rugby. Aiden de Villiers, buitesenter, val aan met spog spel en duik oor die doellyn. Herman slaag met die doelskop. Marlow klop vir Fichardtpark 27 – 5.

Ander spanne se tellings was soos volg (Marlow se telling is eerste):

2de vs Fichardtpark (50 – 7)

3de vs Fichardtpark (47 – 0)

o.16A vs Noord-Kaap (22 – 0)

o.15A vs Fichardtpark (21 – 10)

o.14A vs Fichardtpark (19 – 10)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article