IN Port Elizabeth het die wolmark op 30 Januarie veld verloor en die Cape Wools Merino aanwyser het met 2.7% en 586 punte teruggesak om teen ’n skoonprys van R215.16/kg te sluit.

Die grootste daling op die veiling van tot 3.6%, was in die 18.5 mikron segment. Daar was ’n klein aanbieding van goeie kwaliteit wol, te midde van ’n baie klein aanbieding in totaal. Modiano het die grootste hoe-veelheid bale gekoop, gevolg deur Standard Wool, Lemprier SA en Tianyu SA. Altesaam 5 482 bale is aangebied, waarvan 96.0% verkoop is.

Vooruitsigte

Die daling in die wolprys kan lynreg toegeskryf word aan die posisie van die Rand teenoor die vernaamste geldeenhede. Daar is egter steeds ’n gesonde vraag na goeie kwaliteit Merinowol, wat ten spyte van die algemene daling, konstant hoër presteer as die Australiese mark.

Kommer bestaan egter steeds onder kopershuise oor die beskikbaarheid van kwaliteit wol binne die volgende maand of wat.

SAWAMBA het dan ook aangekondig dat katalogusse 21 en 22 gekombineer gaan word en as een veiling aangebied sal word, wat gister reeds plaasgevind het. Dan bly wolproduksie wêreldwyd ook steeds onder druk en dit is as gevolg van die voortslepende droogte in Australië, in veral die oostelike kusgebiede, wat die grootste wolproduksiegebied in Australië is. In SA is wolontvangstes onlangs 57% laer as dieselfde week van die vorige seisoen en geakkumuleerd, 12.4% minder as die 2017/18 seisoen. Die hoofsaaklike rede hiervoor is die droogtetoestande wat landwyd in produksiegebiede ondervind word, asook die feit dat die Lesotho-grense gesluit bly vir veselhandel met SA. Produsente moet daarop let dat biosekuriteit en volhoubare boerderypraktyke van kardinale belang word in die toekoms van uitvoerkommoditeite soos natuurlike vesel. Naspeurbaarheid gaan ’n onlosmaaklike faktor word van ons industrie en produsente sal verplig word om aan sodanige standaarde te voldoen, ten einde hul produk te kan uitvoer. ’n Goeie vertrekpunt is om die NWKV se Kode van Beste Praktyke te gebruik, wat ’n goeie handleiding bied vir volhoubaarheid in die wolbedryf.

Drie top pryse op afgelope veiling van OVK/CMW is behaal deur:

1. CFB Greeff van Somerset-Oos, vir ’n 2-baal lot BMY van 18.2 mikron, met ’n skoonopbrengs van 70.66% en ’n vetwolprys van R163.10/kg. Die koper was Stucken.

2. CFB Greeff van Somerset-Oos, vir ’n 1-baal lot AMY van 18.4 mikron, met ’n skoonopbrengs van 67.38% en ’n vetwolprys van R162.10/kg. Die koper was New Eng-land Wool.

3. CFB Greeff van Somerset-Oos, vir ’n 5-baal lot AM van 19.6 mikron, met ’n skoonopbrengs van 72.20% en ’n vetwolprys van R162.00/kg. Die koper was Modiano.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article