DIE wolmark het onlangs effens kop opgetel en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 2.7% verstewig om met 566 punte hoër te sluit op ’n skoonprys van R217.80/kg.

Die Australiese EMI het egter met 1.6% verswak. Die wolmark het ’n bietjie van die afgelope weke se verliese herwin en sterker verhandel op die rug van ’n swakker Rand en sterker vraag na lang en fyn Merinowol.

Die Rand het hierdie week vlakke van R14.75 getoets tydens die veiling en 3.1% swakker verhandel teen die VSA Doller en 2.3% swakker teen die Euro, ooreenstemmend dieselfde tyd verlede week. Die grootste styging van tot 4.4% was in die 20.5 mikron segment. Modiano het hierdie week die grootste hoeveelheid bale gekoop, gevolg deur Standard Wool, Lemprier SA en Tianyu SA. ’n Totaal van 11 588 bale is aangebied, waarvan 94.5% verkoop is.

Op die OVK-veiling is 3 203 bale aangebied, waarvan 97.8% verkoop is.


Vooruitsigte

Die effense herstel van die wolmark vandeesweek kan grootliks toegeskryf word aan die verswakking van die Rand teenoor die vernaamste geldeenhede, maar ook weens die sterker vraag na goeie kwaliteit lang, fyn Merinowol.

Alles in ag genome, verhandel die mark steeds baie stabiel, wat grootliks toegeskryf kan word aan die feit dat daar steeds minder wol in die makelaars se store ontvang is, in vergeleke met dieselfde tyd die vorige seisoen.

In SA is hierdie week bykans 50% minder wol ontvang as die ooreenstemmende week die vorige seisoen en geakkumuleer, 13.18% minder as die 2017/18 seisoen. ’n Bydraende faktor hiertoe is dat die Lesotho-grense steeds gesluit is vir veselhandel met SA, as gevolg van wetgewing wat uitgevaardig is in Lesotho, wat dit verhoed.

Dit het ’n wesenlike impak op die volumes in SA, aangesien die grootste meerderheid van ons bure se wol ook op die SA veilingstelsel verhandel word. Onderhandelings vir die pad vorentoe duur steeds voort en geen oplossing is al gevind nie.


Die drie top pryse op die
afgelope veiling van OVK/CMW is behaal deur:

. JR De Villiers, Aliwal-Noord, vir ’n een baal lot AFH van 16.5 mikron, met ’n skoonopbrengs van 73.08% en ’n vetwolprys van R205.00/kg. Die koper was New England Wool.

. JR De Villiers, Aliwal-Noord, vir ’n een baal lot AAFH van 17.3 mikron, met ’n skoonopbrengs van 75.55% en ’n vetwolprys van R202.50/kg. Die koper was Modiano.

. Teerputs Farms CC, Aberdeen, vir ’n een baal lot AH van 17.4 mikron, met ’n skoonopbrengs van 70.06% en ’n vetwolprys van R183.00/kg. Die koper was Modiano.

Die OVK het hul produsente hartlik geluk gewens en hul dank aan die produsente en kopers vir hul getroue ondersteuning uitgespreek.


Dieregesondheid wenke vir die komende somerseisoen

. OVK wil die belangrikheid van inenting van kuddes teen slenkdalkoors beklemtoon, aangesien uitbrake beslis kan voorkom ná goeie vroeë somerreëns.

. Waar die paarseisoen reeds ’n aanvang geneem het, moet boere verkieslik die geïnaktiveerde entstof gebruik, aangesien die lewendige entstof ’n koorsreaksie by diere tot gevolg kan hê en aborsies by vroulike en steriliteit by manlike diere kan veroorsaak.

. Entstof is beskikbaar by OVK handelstakke, asook ander landboubesighede. Wanneer uitwendige parasiete bespeur word, moet diere op gereelde basis gedip word, om besmetting te voorkom.

. Gebruik verkieslik spuitdippe met ’n sterk reuk, wat die draers of vektore (muskiete) sal afskrik. Dit is belangrik dat vektore sover moontlik verhoed word om ’n bloedmaal by gashere te neem, aangesien die besmetlike patogeen sodoende oorgedra word.

. Maak ook seker dat diere geprosesseer is met die aanbreek van die paarseisoen, in terme van ander entings, doserings en voedingsaanvullings.

Dit sal optimale reproduksie en produksie tot gevolg hê.

  • Inligting verskaf deur Heinrich Victor, operasionele bestuurder – Vesel: OVK.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article