ALMAL van ons ken die frustrasie wanneer jy opmerk dat ’n boom in jou tuin nie floreer nie. Om agter die kap van die byl te kom (of dit dalk juis te vermy!) word die hulp van ’n spesialis egter benodig, en Mid-Karoo Express het met Willem Avenant, ’n gekwalifiseerde boomdokter, gesels.
Hoe het dit gebeur dat jy as boomdokter gekwalifiseer het?
Ek het ná skool in Engeland as wildbewaarder en professionele jagter gewerk en my bosboulisensie verwerf. (In Engeland moet mens ’n lisensie hê om bome te mag afsaag.)
Tydens my opleiding het ek toe te hore gekom van “tree surgeons” en wat hulle doen. Dit het my dadelik gefassineer, en nadat ek my bousboulisensie bekom het, het ek met my opleiding as boomdokter begin.
Ek het eers vir die bekende Bamfordfamilie gaan werk, waarna ek by een van die grootste boommaatskappye in Europa, Gritswood and Toms, ingeval het. Daar het ek baie geleer, want ons het vir die stad van London gewerk. Terug in Suid-Afrika in 2005 het ek met my nuwe kennis ’n besigheid in die Somerset-Wes/Gordonsbaai-area begin. Dit het goed gegaan, maar toe word ek beroof van my bakkie en al my ingevoerde toerusting. Dit het my genoodsaak om die land weer te verlaat.
Ek het my vrou ontmoet terwyl ek in Alaska as boomdokter gewerk het, en ons het teruggekeer om vir ses maande deur Suid-Afrika te toer in ’n 1979 Series 3 Landrover.
Aanvanklik sou ons ná ons groot avontuur terugkeer na Amerika, maar toe koop ek iemand wat sou emigreer se toerusting en begin op 1 Julie 2009 my eie besigheid, Tree Specialist, in die Kaap.
Ons kliënte is meestal hotelle, gholfbane, kantoorparke, sekuriteitskomplekse, natuurparke, eiendomsagente, eiendomsbestuurders, en privaat huis-eienaars. Ons werk reg oor die land, en selfs so ver as Namibië.
Nou woon julle in Murraysburg?
Ja, toe my dogter twee word, het ons die skuif terug Karoo toe gemaak, want ek wou vir haar die sorgelose kinderjare van ’n Karookind gee, maar ons bedryf steeds ons besigheid in Kaapstad.
So, wat doen ’n boomdokter?
’n Boomdokter doen letterlik alles wat met bome te doen het. Ons adviseer mense oor watter bome wáár geplant moet word, met die 50 – 100 jaar prentjie in gedagte. Dis beter om een boom op ’n goeie plek te plant as vyf bome op ’n slegte plek. Ons plant bome, snoei hulle (ook groot bome, met behulp van spesiale klimtoue en harnasse) en versorg óú bome, wat spe- siale sorg benodig.
Kan jy ’n “siek” boom gesond dokter?
Die identifisering en behandeling van siektes en plae is ’n groot deel van ons werk. ’n Goeie voorbeeld is die luise wat mens die tyd van die jaar op Celtis (Stinkhout-) en Quercus (Eikebome) sien.
Dit is ’n luis wat die chlorofil uit blare suig. Indien ons so ’n probleem betyds in jou tuin identifiseer, kan ons met pro-aktiewe behandeling onnodige skade voorkom.
Hoe werk jul professionele diens?
Mense kan ’n kort video of foto met ’n navraag stuur. Indien ons kan help, stuur ons ’n faktuur en skeduleer ’n video- of selfoonoproep waartydens ons die kliënt dan adviseer.
Besoek gerus hul webwerf www.treespecialist.co.za, Ask an Arborist op Facebook of skakel 072 434 2126.



