DIE Wilken-gesin van Juriesbaken op Middelburg, Oos-Kaap, bestaande uit Louis en Isabel en hul twee seuns en gades, Louis en Anneke en Jaco en Anestie, het onlangs die fantastiese nuus ontvang dat hulle die heel eerste Oos- Kaapse finalis in Graan SA se Graanboer van die Jaar-kompetisie is.
Hierdeur het hul geskiedenis gemaak aange-sien daar nog nie voorheen ’n Oos-Kaapse finalis in Suid-Afrika was nie. In hierdie deel van Suid-Afrika wat bekend is vir veral wolskaap – en beesboerdery, het Louis Wilken en sy seuns ’n besproeiingsoase gevestig.
Tydens ’n glansgeleentheid op 12 Oktober 2018 in Midrand het die ses Wilkens met trots op die verhoog verskyn om hul pryse in ontvangs te neem. Die Van As-broers van Swellendam in die Wes-Kaap, is vanjaar se wenners van dié prestige-toekenning, met die Van Zyl Familietrust van Ladybrand in die Vrystaat in die tweede plek en die Wilkens van Wilgrow by Middelburg Oos-Kaap in die derde plek.
Die besproeiingspionier, Louis Wilken en sy familie werk almal saam en elkeen doen sy en haar deel om hulle ’n gedugte wenspan te maak.
Met hul winsgewende benadering in die boerdery van mielies, aartappels, pampoene en so meer, het hul boerdery so uitgebrei dat hulle selfs hul eie vervoerbesigheid begin het om hul produkte na die mark te kan vervoer.
Die Wilken-boerdery voorsien werk aan ’n groot aantal werkers en onderhou hierdeur ook baie gesinne.
Om seker te maak dat die werkers genoegsaam kan ontspan en sosiaal verkeer, het hulle hul eie sokkerspan begin.
Hierdie span kompeteer gereeld met ander spanne in die omgewing en is ook die area-kampioene.


