DIE belange van wildboere in die Oos-Kaap kry nou in- dringende aandag nadat ’n tak om na hul belange om te sien begin Augustus gestig is.
Volgens John Hurter, waarnemende provinsiale voorsitter van Wildlife Ranching South Africa (WRSA) in die provinsie, is hul vernaamste doel om wildboere en gemeenskappe betrokke in die bedryf by te staan in dié krisistyd. Dit bied ook geleentheid aan wildboere, wat wel in ’n posisie is om hulp te verleen, om ander wildboere en gemeenskappe by te staan.
Hurter het verduidelik dat wildplase en -reserwes in die Oos-Kaap ’n oppervlak van bykans een miljoen hektaar beslaan. ’n Verdere vyf miljoen hektaar van privaat en kommunale landbougrond is ook betrokke by wildboerdery.
Volgens hom is daar sowat 48 000 mense op hierdie plase of reserwes in diens met ’n verdere 60 000 verwante werkgeleenthede in die landelike gemeenskappe.
“Dele van die Oos-Kaap waar wildplase en privaat wildreserwes is, is wel as droogterampgebied verklaar. In die Sarah Baartman-distrik is daar plase wat die afgelope sewe jaar minder as die gemiddelde jaarlikse reënval gekry het,” sê Hurter.
Hurter sê in dié gebiede bestaan na- tuurlike weiding nie meer nie en wildsbokke moet nou gevoer word om hulle aan die lewe te hou.
“Derduisende wild word bedreig en die omvang van hierdie ramp sal binne die volgende weke duideliker word.
“Tradisionele droogtehulp strek nie wyd nie en daar word hoofsaaklik op hoofstroom landbou gefokus met die gevolg dat wildboere aan die korste end trek,” sê Hurter.
WRSA is gestig met die doel om wildboere by te staan.
- Vir meer inligting bel John Hurter by 076 908 6458.


