WIAAN Taljaard, ’n oud-leerder van die Hoërskool Cradock (CHS) het weer Cradock se naam hoog gehou by die onlangse Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn.
Die 2016 matrikulant van CHS wat vanjaar ’n derde jaar dramastudent op Stellenbosch is, het een van die hoofrolle in ’n drama genaamd Jakkals en Wolf onbeperk by die KKNK vertolk. Hy was die Wolf in die drama en is as gevolg van sy puik spel benoem as ’n finalis vir ’n KANNA-toekenning in die Opkomende Kunstenaars-kategorie.
Wiaan het, toe hy 11-jaar-oud was, begin om drama onder Melina Smit te studeer en is in 2012, toe hy in gr. 8 was, as beste junior by kykNET se nasionale toneelspel-kompetisie aangewys. Hy het in 2016 in die tweede plek in dieselfde kompetisie geëindig.
Wiaan is ook skrywer en regisseur van ’n toneelstuk Frida Kahlo op ’n veiling wat tans by die Kunstekaap opgevoer word. Hy is ’n puik akteur, maar stel deesdae baie belang in skryf en regie van toneelstukke.
Ander benoemings vir ’n KANNA in die afdeling opkomende kunstenaars, is Devonecia Swartz (ook vir Jakkals en Wolf onbeperk) en Jolyn Phillips (Woorde op akkoorde).



