DIE Wêreldbiddag vir Vroue is ’n interkerklike beweging waarvan die saadjie reeds in 1861 ontkiem het toe Amerikaanse en Kanadese vroue ’n raad gestig het met die oog op plaaslike en internasionale sendingwerk.
Ten spyte van hewige teenkanting wat die inisiatief van die destyds eksklusief manlike sendingrade ontvang het, het dit vanweë die geweldige behoefte wêreldwyd aanhou uitbrei, en die eerste amptelike Wêreldbiddag vir Vroue is in 1927 uitgeroep.
Sedertdien verenig Christenvroue van nagenoeg 170 lande jaarliks op die eerste Vrydag in Maart, en word daar in gebed ingetree en in aksie opgetree vir vrede en ge-regtigheid. Die beweging se leuse is “Geïnspireerde Gebed en Biddende Optrede”.
Die eerste Wêreldbiddag vir Vroue op Suid-Afrikaanse bodem is in die Seapoint Congregational Church in Maart 1930 gehou. Plaaslike ondersteuning van die beweging het intussen só toegeneem dat die nasionale kantoor vandag ook programme na Lesotho, Swaziland, Namibië, Zimbabwe en Botswana versprei.
’n Gasheerland word jaarliks aangewys, en die 2019-program is deur vroue van die Sentraal-Europese land Slovenië saamgestel.
Die tema vanjaar is “Kom – Alles is Gereed” en is gebaseer op die gelykenis van die feesmaal wat Jesus in Lukas 14:12-24 vertel het.
Vroue van die Karoo word uitgenooi na plaaslike gebedsgeleent-hede van die Wêreldbiddag vir Vroue op Vrydag, 1 Maart. ’n Kol-lekte sal opgeneem word, en almal is welkom.
Graaff-Reinet
Karoo Community Church, Vrydag, 22 Februarie om 13:15, hoek van Bourke- en Somersetstraat. Kontak 083 778 7639.
Middelburg
Vrydag, 1 Maart om 13:00, St. Barnabas Anglican Church, hoek van Meintjies- en Van der Waltstraat. Kontak 076 400 3041.


