Hannes Feuth (links) ontvang sy toekenning vanaf Tienie du Plessis van Skaapskêr Skeerdiens. Foto:LOUIE DU PLESSIS


HANNES en Pieter Feuth is aangewys as die wenners van Steynsburg Boere-unie se Jongooi kuddekompetisie wat in 2020 begin het.

Steynsburg-boere is genader om elk ’n groep van sewe ooi-lammers in te skryf. Die finale deelnemers uit dié groep is aangewys op grond van hoogste inkomste per jaar en slegs die top vyf ooie van elke groep is in ag geneem.

Die ooitjies is almal laat saamloop op een plaas, sodat almal onder dieselfde omstan-dighede grootword.

Aan die begin van die kuddekompetisie is al die ooitjies se wol geskeer en hulle is deurlopend geëvalueer en beoordeel oor ’n tydperk van twintig maande.

Skeer, paartyd en lammers

Drie skeersels van wolmonsters word van elke ooi geneem om die vagwaarde te bepaal volgens die getoetsde mikrons (hoe fyn/sterk die wol is), skoonopbrengs en die gewig van die vag.

Die ooitjies word gesinkroniseer vir paartyd en die boere is die geleentheid gebied om elkeen sy eie ram te bring om by sy ooitjies te loop.

Sodra die ooi gelam het, word haar lammers met die ooi se kode gemerk. Dié lammers word geweeg en op ongeveer 100 dae ge-speen.

’n Waarde word gekoppel aan elke lam volgens die speenlamvleisprys op daardie stadium.

Van die bekende telers wat vanjaar aan die Jongooi-kuddekompetisie deelgeneem het, sluit in: Nu Poll Merino (Eben du Plessis); Lowenbrunnen, Kesieberg Merino Stoet (Willie Henning); sowel as Konsortium-Merino (Hennie en Peet Coetzee).

Die Steynsburg Boere-unie bedank Tienie du Plessis en die Skaapskêr Skeerdiens vir die skeer van die ooitjies gedurende die kompetisie-tydperk.

Uiteindelike wenners van 2020-inskrywings

Wenner: Hannes en Pieter Feuth, R11 235 (R2 247/ooi per jaar). Tweede: Karen Cloete, R10 015 (R2 003/ooi per jaar). Derde: Wicuss en Arnold Bekker, R10 010 (R2 002/ooi per jaar).

Die Steynsburg Boere-unie bedank die borge van die 2020 Jongooi-kuddekompetisie naamlik OVK, Skaapskêr Skeerdienste, Skaapskêr Customs, Oranjerivier Voere, BKB, Quantro Tools en Steynsburg Slaghuis.

Die 2021-kompetisie is tans aan die gang en die 2022-kompetisie sal in Mei begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article