VALENTYNSDAG het gekom en gegaan. Die rose het verlep. Die sjokolade het selluliet geword en die mooi kaartjie is omgedraai vir die skryf van môre se inkopielys.
Vele manne het al in groot moeilikheid beland omdat hulle van dié dag van rose, sjokolade en liefde vergeet het.
Tog dink ek Valentynsdag is vir sommige volwasse vroue belangriker as ’n verjaarsdag. Want, ’n verjaardag is ’n duidelike aanduiding van die jare wat verbygaan, 40’s, 50’s, 60’s en so nader die oor-die-muur-dae.
Vir jong meisies is Valentynsdag natuurlik ’n meetstok van haar populariteit. Hoe meer kaar-tjies hoe meer vreugde. Maar ai, kan dié hartjies tog breek as die besondere “hy” nie ’n kaartjie, rosie of teddiebeer gestuur het nie.
Waar kom dié dag vandaan?
Maar waar kom die dag van die liefde nou eintlik vandaan? Volgens “Meneer Google” – en ek glo wat hy sê – het Pous Gelasius in die jaar 496, Valentynsdag uitgeroep ter ere van Sint Valentine, ’n heilige Valentyn en priester in Rome wat in 268 gesterf het.
Skindernuus en stories versprei mos vinnig en dit was nie ’n eeu of twee later nie, toe begin verliefdes en verloofdes in ander lande van die wêreld ook Valentynsdag vier. Van die begin af was hartvorminge buitelyne en duiwe die simbole van St. Valentynsdag, soos dit oorspronklik genoem is.
In Engeland was daar ook ’n “Jack Valentyne” wat geskenkies en lekkers vir kinders by die agterdeur van huise gelos het. Hy was glo eintlik ‘n bedrieër en die kinders was bang vir hom.
In Engeland is daar ook met ’n gereelde lotery van ’n ander aard op Valentynsdag begin. Die name van hubare meisies is in ’n bottel gegooi en manne kon vir hulle teen ’n prys ’n naam uit die bottel trek. Dié paartjies kon dan Valentynsdag saam deurbring of selfs langer, sou hulle baie van mekaar gehou het.
Later jare het die gewildheid van dié romantiese dag toegeneem nadat Shakespeare (1564-1616) en Geoffrey Chaucer (1343-1400) dit verdig het. Die gewoonte van handgemaakte papierkaartjies het oral in Engeland en later ook na ander lande versprei.
Op die dorp Norfolk, Engeland, spog hulle daarmee dat hul Valentynsdag-vierings vanaf die Victoriaanse tyd steeds, groter en duurder as op enige ander plek in die wêreld is.
Duur geskenke is steeds vir enkeles beskore en soms word astronomiese bedrae spandeer deur superrykes wat hul geliefdes op dié dag be-derf met ’n motor, handsak of horlosie wat ’n miljoen of veel meer kos.
Maar hoe die Kupido-mannetjie met sy pyle in dié dag inpas is ’n storie vir ’n ander dag.



