Flippie Prins van Twinsville met sy tuisgemaakte waterkar vervoer tot ses kanne water op ’n slag, en hy doen tot 20 ritte elke dag om water aan sy dorpsgenote af te lewer. FOTO: VERSKAF


MET die droogte in Hofmeyr-distrik, het daar mettertyd ’n groot waterkrisis in Twinsville-woonbuurt ontstaan.

Sedert middel-November 2018 is daar geen water meer beskikbaar vir die inwoners van Twinsville nie, en moet elke huishouding daagliks ’n paar kilometer stap om water te gaan haal. Enige mens kan ook net soveel water aandra, en dit het nie lank gevat vir Flippie Prins om die oplossing vir die probleem te vind nie. Hy het twee ou onherstelbare rolstoele op die ashoop gaan optel, en vir hom ’n waterkar gemaak. Hy ry nou telkemale deur die dag sy rondte om waterkanne op te tel by die onderskeie huise in Twinsville en gaan maak dit vol by die krane in Eluxolweni, wat water kry uit die Middelwater-waterskema.

Die eienaars van die waterkanne stap saam, want dit is elkeen se eie werk om sy persoonlike kan vol te tap en weer op die waterkar te laai.

Flippie se waterkar kan ses 20-liter kanne hanteer, en by Hugs of Hope op die dorp word daar ook op gereelde basis vir hom ekstra leë kanne afgelaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article