SAMARA private wildreservaat buite Graaff-Reinet het onlangs die eerste formeel geakkrediteerde vroulike spoorsnyer in Suid-Afrika by hul personeelkorps verwelkom.
Justa Frans het in 2018 haar Vlak 3-opleiding aan die Suid-Afrikaanse Toerismekollege se Spoorsnyersakademie met ’n 90%-gemiddeld voltooi.
Haar kennis van die natuur en vermoë om as gids van kultuurhistoriese besienswaardighede in die veld op te tree, sal nou verbreed word tydens haar internskap by Samara.
Alex van den Heever, medestigter van die Spoorsnyersakademie, is hoopvol dat hierdie internskap sal lei tot Justa se permanente aanstelling.
Justa was een van twee vroue wat die Spoorsnyersakademie se kursus in 2018 voltooi het. Haar klasmaat, Kelathlilwe Malaki, hoop tans op ’n aanstelling as spoorsnyer in haar geboorteland, Botswana.
Dit blyk dat Justa en Kelathlilwe se sukses nóg dames geïnspireer het, en Van den Heever sê dat ’n addisionele twee vroue hoop om aan die einde van 2019 aan die Spoorsnyerakademie te gradueer.
“Ons is ingenome en trots daarop om Justa hier by ons op Samara te laat aansluit,” het Sarah Tompkins, medestigter van dié eksklusiewe wildreservaat gesê.
As ’n vrou wat intens betrokke is by die natuurbewaringsbedryf, voel Sarah sterk oor die bemagtiging van ander vroue om ’n daadwerklike rol te kan speel in dié industrie. Haar dogter, Isabelle, deel Sarah se entoesiasme vir die industrie en haar passie vir vroulike bemagtiging, en dié ma en dogter werk skouer-aan-skouer daaraan om Samara se diere- en plantbevolkings te bewaar en te beskerm.
Oor dié nuwe uitdaging het Justa die volgende te sê: “Ek is baie dank verskuldig aan die Spoorsnyersakademie en al hul donateurs vir hierdie geleentheid. Ek is vreeslik opgewonde, en sien uit daarna om Samara en die Akademie trots te maak!”



