DIE klein plattelandse gemeenskap van Adelaide is tot in sy fondamente geskud ná die wrede aanval op ’n 66-jarige vroulike pensioentrekker in haar huis in die Bezuidenhoutville-woonbuurt op dié dorp.
Die voorval het kort ná middernag verlede Donderdag plaasgevind.
Volgens die 66-jarige Mona Tromp, tweelingsuster van die slagoffer, was haar suster Molly Snayers alleen by haar woning in Dahliastraat toe die voorval plaasgevind het.
Tromp het die dramatiese gebeure aan Mid-Karoo Express geskets.
Die aanvaller het glo toegang tot haar suster se woning deur ’n venster, wat hy oopgedwing het, verkry.
“My suster het wakker geskrik toe ’n ornament op die grond val en (sy) het opgestaan om ondersoek te gaan instel,” het Tromp vertel.
In een van die vertrekke is sy van agter gegryp en is twee handdoeke oor haar kop gegooi. “Sy is toe herhaaldelik met ’n hamer op haar kop en lyf geslaan. Haar gesoebat en gekerm het op dowe ore geval en sy het haar aanvaller later uit desperatenheid geld aangebied.”
Sy het hom aangesê om na haar hangkas te gaan en geld uit haar handsak te neem. Terwyl hy dit gedoen het het hy herhaaldelik op haar gevloek.
Nadat hy die geld uit haar handsak geneem het, het hy na die badkamer teruggekeer en haar weer met die hamer geslaan.
Volgens Tromp het haar suster in ’n stadium probeer om deur die oop venster te vlug, maar haar aanvaller het haar teruggepluk en in die wasgoedmandjie gedruk.
Daarna het hy skottels en wasgoed oor haar uitgegooi.
“Later het sy gehoor hoe hy deur die venster na buite gaan waar hy met iemand gepraat het.”
Tromp sê haar suster het enkele minute later daarin geslaag om die veiligheidshek oop te sluit en het na haar buurvrou oorkant die pad gestrompel.
Sy kon haar nie wakker kry nie en het toe draadlangs met groot moeite na haar broer se huis gesukkel. Toe haar broer eindelik uitkom, het sy by sy hek inmekaargesak.
Sy is daarvandaan na die hospitaal geneem.
By die hospitaal is vasgestel dat Snayers baie bloed verloor het. Sy het ook ernstige hamerhoue aan haar kop en rug gehad en ’n diep sny aan een van haar arms.
“Dit is net deur God se genade dat my tweelingsuster nog leef,” het Tromp gesê.
Tromp self kan sedert die voorval nie slaap of eet nie. “Ek voel soos ’n robot,” het sy aan Mid-Karoo Express gesê. “My suster kan niks vir haarself doen nie en kry nagmerries oor die voorval.”
Sy het voorts gesê dat haar suster deur die einste mense seergemaak is oor wie sy haarself altyd ontferm het.
“Sy het so ’n sagte hart en sal nooit behoeftiges wegwys nie,” het Tromp met betraande oë gesê.
Snayers was die afgelope Dinsdag steeds in die hospitaal op Adelaide.
Intussen is twee verdagtes aangekeer. Een van die verdagtes het die afgelope Maandag in die landdroshof op Adelaide verskyn. Hy is nie gevra om te pleit nie en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning.
’n Tweede verdagte wat minderjarig is, is in die sorg van sy ouers vrygelaat.

