Die vragmotorbestuurder wat verantwoordelik gehou word vir die ongeluk op die N10-hoofweg, sowat 20km buite Nxuba op pad na Colesberg, waarin vier persone omgekom het, het vandag, 15 September vir die tweede keer in die hof verskyn op vier aanklagte van strafbare mansslag.

Unathi Binqose, woordvoerder van die Oos-Kaapse Departement van Vervoer, het verlede week bevestig dat die tragedie kort ná 08:00 op Saterdag, 6 September plaasgevind het.
’n Ligte motorvoertuig met vier insittendes het kop-aan-kop met ’n kantelvragmotor gebots, waarna albei voertuie aan die brand geslaap het.
Die insittendes van die ligte motor is geïdentifiseer as Christelle Swanepoel (41), Michelle Collarossi (30), Jason Burton (22) en Janke Pressley (16), wat almal op die toneel dood verklaar is.
Zeda Colarossi Goosen, voorsitter van Hoërskool Cradock se oudskoliereklub, het medelye aan die families van die oorledenes betoon in ’n roerende boodskap wat op die Hoërskool Cradock Alumni se Facebook-bladsy geplaas is:
“Ons harte is gebreek saam met u s’n. Geen woorde kan die pyn verlig wat u tans beleef nie, maar asseblief weet dat ons in gedagtes en gebede by u is. Die herinneringe aan hul lewens – hul lag, hul drome, hul bydraes – sal vir altyd in ons harte voortleef. Ons wens u die krag toe om deur hierdie ongelooflike moeilike tyd te kom, en ons hoop dat u troos sal vind in die liefde en ondersteuning van almal rondom u. Mag hul siele in vrede rus, en mag u deur hierdie donker tyd met lig en liefde omring word.”
Janke Pressley was ’n graad 10-leerder by Cradock Hoërskool, terwyl die ander drie ook oudskoliere van hierdie skool was. Sedert die ongeluk het menige ander ook hartseer en medelye op Facebook uitgespreek.
Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Oos-Kaap: Mthatha-afdeling het bevestig dat die betrokke saak uitgestel is tot 31 Oktober vir verdere ondersoeke.
Die beskuldigde bly in aanhouding nadat hy formeel afstand gedoen het van sy reg om vir borgtog aansoek te doen.



You must be logged in to post a comment.