NÁ 11 jaar se betrokkenheid by die Hoër Volkskool, het Magda van Heerden nou afgetree.
Sy was vanaf 2008 verbonde aan HVS, ’n inwonende personeellid van Huis Cronjé en hoofsaaklik verantwoordelik vir Afrikaans huistaal vir gr. 8 tot 10, terwyl sy ook vir ’n paar jaar kuns en kultuur vir gr. 8 en 9 onderrig het. Magda was baie betrokke by buite-muurse bedrywighede by die skool.
Sy het vir ’n kort periode .22-skiet (geweer) help afrig en spog self met Springbokkleure in .22-skiet wat sy in 1975-1979 verwerf het.
Sy het ook hoogspring afgerig, maar het veral diep spore getrap in kultuuraktiwiteite van die skool. Magda het skaak afgerig en was verantwoordelik vir die buitemuurse skaakbord wat in die skool se vierkant pryk. Sy het die skool se redenaars onder haar vlerk geneem, en dié het jaarliks deurgedring tot die ATKV se semi-finale rondtes. Sy was ook in beheer van die skool se Vasvra-span wat in 2017 die ATKV/Die Burger Vlymskerp-vasvrakompetisie vir hoërskole in die Oos-Kaap gewen het. Onder Magda se leiding kon leerders gereeld aan interne debatkompetisies in die skool deelneem en sy het elke jaar ’n debatspan na die jaarlikse Woordfees in Stellenbosch vergesel waar hulle uitstekend gevaar het. Magda was ook die stigter van HVS se ATKV-jeugtak, Volksmond, wat Afrikaans aktief bevorder by Volkskool.
“Dit was ’n verrykende voorreg om vir 11 jaar deel te kon wees van HVS,” het Magda gesê.
Sy sluit haar nou aan by haar eggenoot, Cobus, op hul plaas in die Murraysburg-distrik, en leerders en personeel het haar voorspoed en ’n rustige aftrede toegewens.




