Só word nuwe sypaadjies op Fort Beaufort aangelê.Foto: NOLAN VENTER


TERWYL voetgangers op Fort Beaufort juig oor die dorp se nuwe sypaadjies, is eienaars van voertuie glad nie beïndruk nie.

Die ou teer- of betonsypaadjies maak nou al weke lank reeds plek vir die nuwerwetse plaveisteentjies wat tans in die hele dorp uitgelê word.

Laaigrawe is die afgelope drie maande reeds besig om die ou sypaadjies op te grawe en die grond gelyk te maak vir die nuwes. Daar kon tot nou toe nog nie vasgestel word hoeveel die projek die provinsiale staatskas uit die sak gaan jaag nie.

Mid-Karoo Express het raadslid Elten Bantam daaroor gepols.

“Die projek word nie deur die plaaslike munisipaliteit befonds nie, maar wel uit ’n spesiale toekenning vanuit die provinsiale begroting,” het Bantam aan Mid-Karoo Express gesê.

Intussen mor vele motoriste oor die toestand van die dorp se paaie. Van hulle is al só gelap dat hulle ná die ligste reënbui disintegreer.

Die padboumaatskappy Roadmac moes verlede week inspring om slaggate soortgelyk aan kraters by die ingang tot die Newtown-woonbuurt te herstel.

“Ons bande kan net nie op hierdie paaie hou nie,” het Denzil Jegels, ’n motorwerktuigkundige op die dorp, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article