DIE Vroue-landbouvereniging van Kaapland is vanjaar presies 90 jaar gelede gestig en daar is behoorlik tydens die onlangse kongres in Goudini oor dié mylpaal feesgevier.
Ook op plaaslike takvlak het Hofmeyr VLV spesiale eer betoon aan hul oudste lid, Valerie Vermaak (94) wat reeds 64 jaar ’n VLV-lid is.
Tannie Valerie het diep spore getrap by Hofmeyr VLV. Sy het as landbou-sameroep-ster gedien en as tuinier by uitstek haar uitgeleef.
Sy was ook saam met Yvonne Froehlich, haar buurvrou van destyds, die ontwerper van Hofmeyr se takvaandel. Dit word nog gereeld by geleenthede gebruik waar Hofmeyr VLV verteenwoordig word.
Valerie se twee dogters, Anne Nel en Avice Steenkamp, was saam met haar by die VLV vergadering. Valerie woon tans by Anne in Hofmeyr. – TERESA OPPERMAN




