CRADOCK VLV het verlede Vrydag ’n baie interessante byeenkoms gehad.
Lede kon by dié geleentheid leer hoe om hangmandjies te plant en watter groot verskeidenheid daar met hierdie mooi tuinversiering moontlik is.
Karen Michau, wat die demonstrasie gedoen het, het begin met ’n vetplant-mandjie wat deesdae baie gewild is in plekke van waternood. Sy het verduidelik dat alle mandjies altyd ’n hoë middelpunt moet hê en dat enige vetplant van verskillende kleure en blaarteksture rondom dit geplant kan word.
“Wat so lekker is van so ’n mandjie is dat jy vir ses weke van die huis af kan weggaan sonder enige bekommernis oor wie die plante gaan water gee,” het sy gesê.
Om ’n blommandjie te maak, moet mens ’n immergroen plant vir die middel kies en dan kan jy gesiggies en lobelias plant vir kleur. In die somer kan gesiggies vervang word met petunias en ander kleurvolle somerplante.
“Die geheim van ’n mandjie is dat dit op ooghoogte moet hang sodat jy die blomme kan geniet en nie heeltyd in die mandjies se boom vaskyk nie,” het sy gesê.
Om ’n kombuisdeur-mandjie te plant, moet plante gekies word wat dieselfde hoeveelheid water en son benodig. Vir hierdie mandjies, wat gerieflikheidshalwe sommer voor die agterdeur kan hang, het Karen preie as middelpunt aanbeveel. Sy het die mandjie opgevul met onder meer roket, baba-spinasie, pietersielie en tiemie. Vir kleur kan jy, volgens seisoen, gesiggies, kappertjies, grasangeliere of viooltjies – almal eetbare plante – tussenin plant.




