DIE COVID-19 pandemie en spesi- fiek sy derde vlaag is besig om onderwys ernstig te ontwrig.
Onderwysers en ouers se vrese is bevestig nadat skole kort na afloop van die halfjaarlikse skoolvakansie na normaal teruggekeer het en sommige nou weer moet sluit weens COVID-19 gevalle. Vrae is gevra oor hoe skole te midde van ’n derde vlaag van die verwoestende pandemie na normale funksionaliteit kan terugkeer.
In Oos-Londen is verskeie skole verlede week tydelik gesluit terwyl plattelandse skole ook nie gespaar gebly het nie. Leerlinge van ’n kloosterskool op Kirkwood is nou reeds vir ’n tweede week tuis nadat dié skool ook sy deure weens COVID-19 gevalle moes sluit.
Op Fort Beaufort is die Junior Sekondêre Skool Newton verlede week vir ’n paar dae gesluit nadat twee onderwysers en ’n paar leerlinge positief vir die virus getoets het.
Dié skool was ook verplig om na slegs ’n paar dae wat alle leerlinge terug by die skool was, wéér na die skoftestelsel oor te skakel omdat klasse te vol was en sosiale afstand nie doeltreffend gehandhaaf kon word nie. “Ons is bang om ons kinders skool toe te stuur omdat ons hulle ten alle koste teen blootstelling aan die virus wil beskerm,” het ’n ouer wat verkies om anoniem te bly aan die Komani-Karoo Express gesê.
Intussen stamp onderwysowerhede en vakbonde kop oor die feit dat die onderwysdepartement moontlik die Oktober skoolvakansie wil afstel om skole kans te gee om werk wat weens die effek van die pandemie agter geraak het, in te haal.

