Vir Philip Venter (79) is ’n fiets nie net ’n vervoermiddel nie. Dis ’n gimna- sium, simbool van ’n gesonde lewens-wyse, en ’n goeie vriend met ’n baie lang geskiedenis.
Dié inwoner van Middelburg het op 1 Januarie vanjaar ’n persoonlike mylpaal behaal toe hy 20 000km op sy bergfiets getrap het.
Venter het sy eerste fiets, ’n 24 duim Hercules, op 10-jarige ouderdom gekry.
“In 1955, toe ek 12 jaar oud was, het ek tydens skoolvakansies by die Virginia Hospitaal se skakelbord gaan werk. Met dié geld het ek vir myself ’n Raleigh-fiets vir R24 gekoop. Toe kon ek naweke huis toe trap,” sê Venter.
Huis, was sy grootouers se plaas sowat 30km buite Senekal.
“Ek kon nie handskoene bekostig nie en het in die winter kouse oor my hande getrek as ek Maandae vroeg weer moes terug trap kosskool toe.”
In 1958 het Venter sy fiets verruil vir ’n fiets van ’n ander formaat, ’n DKW bromfiets. Maar in 1972, na die geboorte van sy oudste dogter, het hy weer vir hom ’n fiets gekoop, die keer ’n stewige swart Truimph.
“Met dié fiets het ek werk te getrap vir so twee jaar lank tussen Hospitaalpark en Hamilton in Bloemfontein. Ek dink ek het so ongeveer 2 000km afgelê oor dié tydperk.”
Toe Venter twee jaar later ’n maatskappymotor kry, het hy sy fiets vir ’n volle 40 jaar opgehang.
Hy was ’n strawwe roker, maar het in 2009 besluit dis malligheid om byna R1 000 per maand op sigarette te be-stee. Dit het hom drie maande se bloedsweet en klippekou gekos om hom van dié gewoonte te bevry.
“In 2012 het ek besef die ouderdom bekruip my gans te vinnig. Ek het pap en sleg gevoel. Op 69-jarige ouderdom het ek my Truimph afgestof en wéér begin fietsry. Dit het my so ses maande gevat om weer fiks te raak.”
Hy het ’n verdere sowat 2 000km op dié ou swart staatmaker getrap. Op sy 70ste verjaardag, het sy oudste dogter Marie-Elize, vir hom ’n bergfiets gegee.
“Dié ene het 21 ratte. My ou fiets het maar net drie ratte. Hy het ook voorvere, wat hier in die Karoostrate nogal welkom is.”
Venter en sy vrou Elna het in 2019 na Middelburg verhuis. Benewens die feit dat die strate dalk heelwat meer slaggate het, ry hy baie lekker, maar reken dis nie makliker as in Bloemfontein se spitsverkeer nie.
“Hier is die heeltyd mense wat ’n mens moet groet.”
Oor die feit dat hy nou al meer as halfpad om die aarde fiets gery het, is Venter heel in sy skik.
“Dit wys jou net hoe ver ’n mens in die lewe kan kom as jy bietjies-bietjies aanhou. Dis beslis die moeite werd.
“Ek is geseën met goeie gesondheid en kan nou saam met my kleinkinders fietsry.”




