CRADOCKERS kan hulle gereed maak vir ’n groot kermis by Vino’s op die gholfbaan wat afgesluit gaan word met Kersliedere by kerslig.

Die galageleentheid op Saterdag, 1 Desember gaan die ideale geleentheid wees om Kersinkopies te doen, aangesien daar reeds 19 stalletjies is wat bespreek het, terwyl nog aansoeke gereeld ontvang word.

Volgens Christene Pieterse van Vino’s sal die bekende Chris Brits die Kerssang lei. Die publiek kan stoele of komberse saambring om op te sit. Piekniekmandjies is welkom, maar die Vino’s-restaurant sal heeldag en -nag oop wees. Die sing van Kersliedjies sal om 18:30 begin.

Volgens Christene is hulle reeds druk besig om tweeliterplastiekbottels bymekaar te maak om as ‘blakers’ vir kerse te dien. Sy beplan om kerse vir R10 elk te verkoop en die inkomste aan te wend deur klein geskenkies vir minderbevoorregte kinders uit te deel. Indien enigiemand ’n bydrae wil maak, sal dit waardeer word. Hulle soek ook dringend na ’n Kersvader om die geskenkies uit te deel.

Onder die stalletjies wat op 1 Desember besoek sal kan word, gaan daar handgemaakte houtwerk, dekor-items, gebak en ander lekkernye, pannekoeke, juwele, roosterkoek, boerewors en vele meer wees.

Met die stalletjies se verhuring gaan fondse vir die plaaslike Diereskuiling se veeartsrekeninge ingesamel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article